Handelinge 11

11
Petrus in die moeilikheid
1Die nuus oor God se werk onder mense wat nie Jode is nie, het soos ’n veldbrand versprei. Die ander apostels en die gelowiges in Judea het ook daarvan te hore gekom. 2Toe Petrus kort daarna weer in Jerusalem aankom, het sekere gemeentelede wat nog die besnydenis en ander Joodse gebruike streng onderhou het, hom voor stok gekry. 3Hulle was ongelukkig omdat hy in iemand se huis ingegaan het wat nie besny was nie en boonop saam met hom geëet het. Hulle het dit reguit vir Petrus gesê.
Petrus verduidelik
wat by Kornelius gebeur het
4Petrus het verduidelik wat gebeur het: 5“Ek was een middag in Joppe besig om te bid toe ek ’n hemelse gesig sien. Voor my oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor my afgesak. 6Binne-in was allerhande soorte diere en ook ’n klomp reptiele en voëls. 7Ek hoor toe ’n stem wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet!’
8“‘Oor my dooie liggaam. Ek sal dit nooit doen nie, Here,’ het ek geantwoord. ‘Ek het nog nooit iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie. Ons Jode eet nie sulke kos nie.’
9“Die stem het ’n tweede keer uit die hemel met my gepraat en gesê: ‘As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.’
10“Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in.
11“Op daardie oomblik het daar drie mans opgedaag by die huis waar ek gebly het. Hulle is uit Sesarea gestuur om my te kom haal. 12Die Heilige Gees het toe vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan. Ek en hierdie ses broers by my is toe na Kornelius se huis in Sesarea. 13Daar het hy ons vertel hoe ’n engel aan hom verskyn het. Die engel het vir hom gesê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat haal vir Petrus. 14Hy sal vir jou sê hoe jy en jou huisgesin in die regte verhouding met God kan kom.’
15“Ek het skaars met hulle oor die Here begin praat, toe kom die Heilige Gees oor hulle almal. Dit was net soos op pinksterdag toe die Heilige Gees oor ons hier in Jerusalem gekom het.
16“Hierdie gebeurtenis in Kornelius se huis het my laat dink aan die woorde van ons Here Jesus. Onthou julle hoe Hy vroeër vir ons gesê het: ‘Johannes doop julle wel met water, maar julle sal een van die dae met die Heilige Gees gedoop word’?
17“Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.”
18Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.”
’n Nuwe kerk in Antiogië
19As gevolg van die vervolging van die kerk in Jerusalem net na Stefanus se dood het party gelowiges na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië gevlug. Hulle het die Woord van die Here daar met ander Jode gaan deel.
20Sekere gelowiges wat uit Siprus en Sirene gekom het, het egter daar in die stad Antiogië begin om met mense wat nie Jode was nie oor die Here Jesus te praat. 21Die Here se groot krag het deur hierdie gelowiges gewerk sodat ’n groot groep mense in ’n kort tydjie tot bekering gekom het. Hulle het hulle sondes laat staan en volgelinge van Jesus geword.
22Toe hierdie nuus die Jerusalemgemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra. 23Hy was aangenaam verras toe hy daar aankom en sien wat God besig was om in hulle lewe te doen. Barnabas het hulle opgewonde aangespoor om die Here met alles in hulle te dien en aan Hom getrou te bly. 24Barnabas was ’n goeie man met ’n sterk geloof in God. Almal kon sien dat die Heilige Gees se groot krag deur hom gewerk het. Hy het besluit om in Antiogië te bly en die gelowiges te help om die goeie nuus daar uit te dra. Baie mense het as gevolg van sy werk begin glo.
Saulus kom help
25Na ’n ruk het Barnabas besluit om Saulus te gaan opsoek en hom te oorreed om in Antiogië te kom werk. 26Hy is na Tarsus toe, waar hy vir Paulus raakgeloop het. Paulus was dadelik bereid om saam met hom in Antiogië te kom werk. Hulle twee het die volgende jaar lank daar saamgewerk. Hulle het die mense geleer wat dit beteken om in Christus te glo.
Hier in Antiogië is die volgelinge van Jesus die eerste maal Christene genoem.
Die kos in Jerusalem raak op
27In dié tyd het ’n paar boodskappers van die Here uit Jerusalem na Antiogië gekom. 28Een van hulle, ’n man met die naam Agabus, is deur die Heilige Gees gelei om vir hulle te sê dat ’n groot hongersnood binnekort die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook gebeur in die tyd toe Claudius die keiser van die Romeinse Ryk was.
29Die volgelinge van Jesus in Antiogië het besluit om die gelowiges in Judea te help.30Hulle het elke bietjie geld wat hulle kon afknyp vir hulle broers en susters in die Here in Jerusalem opsy gesit. Toe het hulle vir Barnabas en Saulus met al die geld na Jerusalem toe gestuur. Daar het hulle twee dit vir die leiers van die kerk gegee.

Tans Gekies:

Handelinge 11: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid