Handelinge 11

11
Petrus vertel in Jerusalem wat gebeur het in Sesarea
1Die apostels en die ander gelowiges in die provinsie Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die boodskap van God aanvaar het. 2En toe Petrus in Jerusalem gekom het, het party Joodse Christene met Petrus begin stry 3en gesê: “Jy het na mense toe gegaan wat nie besny is nie, en jy het saam met hulle geëet.”
4Toe het Petrus begin om vir hulle alles mooi te verduidelik. Hy het gesê: 5“Ek was besig om in die stad Joppe te bid, toe ek iets gesien het, soos in 'n droom. Ek het gesien dat iets soos 'n groot stuk lap uit die hemel afkom na my toe, en dit het gelyk of iemand die lap aan die vier hoeke vasgehou het. 6Toe ek goed kyk, het ek gesien in die lap is daar diere wat vier pote het en wat op die aarde bly, daar was ook wilde diere en diere wat kruip en voëls. 7En ek het gehoor dat Iemand vir my sê: ‘Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.’ 8Maar ek het geantwoord: ‘Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is of wat onrein is nie.’ 9Maar die Persoon het die tweede maal uit die hemel vir my gesê: ‘God het hierdie diere rein gemaak. Jý moenie sê dit is onrein nie.’ 10Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap met alles daarin opgetrek in die hemel in. 11En skielik het daar drie mans by die huis gestaan, die huis waarin ons was. Kornelius het hulle van Sesarea na my toe gestuur. 12En die Heilige Gees het vir my gesê om saam met hulle te gaan en nie te stry nie. Hierdie ses gelowiges van die stad Joppe het ook saam met my gegaan, en ons het in die huis van Kornelius ingegaan. 13Kornelius het vir ons vertel dat hy gesien het 'n engel staan in sy huis, en die engel het vir hom gesê: ‘Jy moet iemand na Joppe stuur en vir Simon vra om saam te kom hiernatoe. Die mense noem vir Simon ook Petrus. 14Simon sal dinge vir jou vertel, en as jy daarna luister, dan sal God vir jou en vir almal in jou huis red.’
15“En toe ek begin praat, het die Heilige Gees in hulle gekom, soos die Gees in die begin ook in ons gekom het. 16Toe het ek die woorde van die Here onthou wat Hy gesê het: ‘Johannes het julle met water gedoop, maar Ek sal vir júlle doop met die Heilige Gees.’ 17Die mense het in die Here Jesus begin glo, soos ons in die Here Jesus begin glo het. Toe het God vir hulle die Heilige Gees gegee, soos God die Gees vir ons gegee het. Ja, God het dit gedoen, daarom kon ek nie vir God probeer keer nie.”
18Toe die Joodse gelowiges hierdie dinge gehoor het, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “Dit is nou so: God het ook vir die heidene gehelp om te verander sodat hulle kan lewe soos God wil hê hulle moet lewe.”
Die gemeente in Antiogië
19Nadat Stefanus gesterf het, het die Jode vir die gelowiges baie swaar laat kry en hulle het die gelowiges uit die land gejaag. Die gelowiges het deur die land gegaan, party het tot by die land Fenisië gegaan en ander het na die eiland Siprus en die stad Antiogië gegaan, en hulle het die boodskap van Christus net vir Jode gebring. 20Party van hierdie gelowiges het van die eiland Siprus en van die stad Sirene na die stad Antiogië gekom. Hulle het ook gesels met die Jode wat Grieks gepraat het, en hulle het die goeie boodskap van die Here Jesus vir daardie Jode gebring. 21Die Here het hulle gehelp, en baie mense het in die Here begin glo en hulle het begin lewe soos Hy wil hê hulle moet lewe. 22Die gemeente in Jerusalem het gehoor wat daar in Antiogië gebeur het, en hulle het vir Barnabas gestuur om na Antiogië te gaan. 23Toe Barnabas daar kom en hy sien hoe goed God vir hulle was, was hy bly en het hy aangehou om hulle almal te bemoedig om aan te hou om die Here Jesus te dien, soos hulle besluit het om te doen. 24Barnabas was 'n goeie man, die Heilige Gees was in hom en hy het sterk in die Here Jesus geglo. Baie mense in die stad het in die Here Jesus begin glo. 25Barnabas het toe na die stad Tarsus gegaan om vir Saulus te soek. 26Toe Barnabas vir Saulus kry, het hy hom na Antiogië gebring. Hulle was daar 'n hele jaar lank saam in die gemeente en hulle het vir baie mense in die stad geleer. Daar in Antiogië het die mense die gelowiges “Christene” genoem. Dit was die eerste maal dat mense die gelowiges “Christene” genoem het.
27In hierdie tyd het daar profete van Jerusalem na Antiogië gekom. 28Een van hulle, sy naam was Agabus, het opgestaan toe die Heilige Gees vir hom gesê het hy moet 'n boodskap bring. Hy het gesê dat daar 'n groot hongersnood oor die hele wêreld sal kom. In die tyd toe Claudius die keiser was, was daar so 'n hongersnood. 29Die gelowiges het toe besluit dat elkeen van hulle so baie geld sou gee soos wat hy kon gee. Hulle wou dit dan stuur na die land Judea om vir die gelowiges daar te sorg. 30Hulle het dit toe gedoen, hulle het vir Barnabas en Saulus gestuur om die geld na die ouderlinge in Jerusalem te bring.

Tans Gekies:

Handelinge 11: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid