2 KORINTIËRS 12:1-10

2 KORINTIËRS 12:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Om te spog, help 'n mens niks, maar partymaal moet 'n mens 'n bietjie spog. Ek wil nou iets sê. Die Here het iets met 'n persoon laat gebeur en Hy het vir hom dinge gewys wat niemand anders gesien het nie. Ek weet van 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede het God hierdie man na die hoogste hemel geneem. Ek weet nie of die man met sy liggaam daar was en of net sy gees daar was nie. Net God weet dit. Ja, ek weet God het hierdie man geneem tot in die paradys. Ek weet nie of die man met sy liggaam daar was en of net sy gees daar was nie. Net God weet dit. Daar in die paradys het hierdie man wonderlike dinge gehoor, so wonderlik dat 'n mens nie daaroor kan praat nie. Ek sal spog oor hierdie man. Maar ek sal nie oor myself spog nie. Ek sal net daaroor spog dat ek swak is. As ek besluit om te spog, dan sal ek nie 'n dom mens wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek het besluit om nie te spog nie. Want ek wil nie hê dat die mense moet dink ek is beter as wat ek was toe hulle my gesien of gehoor het nie. Want hulle weet van die belangrike dinge in die hemel wat God vir my gewys het. Maar God het iets in my lewe gegee, dit pla my baie. Hy het dit gegee sodat ek nie baie van myself moet dink nie. Hierdie ding is soos 'n engel van Satan. Die engel slaan my met sy vuis sodat ek nie baie van myself moet dink nie. Ek het baie maal vir die Here gevra dat Hy hierdie ding moet wegneem. Maar Hy het vir my gesê: “Ek is genadig vir jou, en dit is genoeg, want wanneer iemand weet dat hy swak is, dan word my krag in sy lewe meer.” Daarom sal ek graag spog dat ek swak is, want dan is die krag van Christus in my. Daarom is ek tevrede wanneer ek swak is, wanneer mense my beledig, wanneer ek swaarkry, wanneer mense slegte dinge doen aan my, en wanneer ek probleme het. Want ek weet dat alles gebeur omdat ek aan Christus behoort. Ja, ek is tevrede, want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.

2 KORINTIËRS 12:1-10 Die Boodskap (DB)

Dit help nie om te spog soos ek nou maak nie. Daarom doen ek dit heeltemal teen my sin. Maar omdat ek in elk geval nou daarmee besig is, kan ek net sowel met julle praat oor die visioene en openbarings wat die Here my laat beleef het. Kom ek vertel julle gou van ’n ander man wat ook aan Christus behoort (onthou dit is steeds ek, “die dwaas”, wat aan die woord is). Wel, daardie ander man is veertien jaar gelede op ’n dag skielik tot in die hoogste hemel weggevoer. Ek weet nie of hy met sy liggaam en al, of sonder ’n liggaam, in die hemel in is nie. Net God weet. Hierdie man is reguit na God se woonplek toe gevat. Daar het hy dinge gehoor wat hy nie mag oorvertel nie. Wel, ek sal net oor daardie “ander Paulus” spog, maar nie oor myself nie. Al waaroor ek, “die dwaas”, kan spog, is oor my swakhede en probleme. As ek dit wel sou waag om ’n bietjie oor myself te praat, sal ek nie regtig ’n gek van myself maak nie, want alles wat ek sê, is die reine waarheid. Maar ek het besluit om dit nie te doen nie. Netnou dink mense dat ek verskriklik belangrik is as ek heeltyd net oor my groot geestelike ervarings praat. En dit is tog nie waaroor ons geloof gaan nie. Al wat julle eintlik oor my hoef te weet, is dit wat julle my sien doen en dit wat julle oor my werk as apostel hoor. Om seker te maak dat ek nie te veel van myself sou begin dink oor al die openbarings wat ek ontvang het nie, het God ’n groot struikelblok oor my pad gestuur. Al my swaarkry en swakhede was soos ’n doring wat die hele tyd in my voet bly vassit het. Ja, dit was soos ’n boodskapper wat die duiwel na my toe gestuur het om my pimpel en pers te kom slaan. Hierdie struikelblok moes keer dat ek verwaand raak oor al die wonderlike geestelike ervarings wat ek al beleef het. Nie minder nie as drie keer het ek die Here gevra om hierdie struikelblok uit my lewe weg te vat. “Laat al my swaarkry en lyding asseblief tog net ophou!” het ek Hom gesmeek. Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.” Na hierdie antwoord van die Here het hierdie doring in my vel skielik die krag in my lewe geword. Ek het ontdek dat swaarkry en swakhede deel van die Here se plan met my lewe is. Van toe af kon ek selfs spog oor hoe swaar dit met my gaan sodat Christus die enigste kragbron van my lewe kan wees. Weet julle, ek is glad nie meer omgekrap oor my swakhede en probleme nie. Wanneer mense my slegsê, wanneer ek mishandel word, wanneer ongelowiges my vervolg, of wanneer ek bang en benoud is omdat ek vir Christus werk, is ek doodtevrede. Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk. My eie swakheid leer my om net op Christus se groot krag staat te maak.

2 KORINTIËRS 12:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

As ek dan moet grootpraat – al is dit nou wel nie nuttig nie, sal ek uitkom by gesigte en openbarings deur die Here. Ek ken ’n man wat in ’n hegte verhouding met Christus staan. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, maar God weet. En ek weet ook dat hierdie man – of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, God weet – weggeruk is na die Paradys toe, en dat hy daar dinge gehoor het wat so verhewe is dat dit vir ’n mens onmoontlik is om dit in woorde uit te druk. Oor hierdie man sal ek spog, maar oor myself sal ek nie spog nie, behalwe oor my swakhede. Al sou ek ook wou spog, sou ek nie dwaas wees nie, want dan sou ek die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan sodat niemand méér oor my sal sê as wat hy van my sien en van my hoor nie, selfs nie as gevolg van die buitengewone openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my te kasty. Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontbe-rings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid