2 KORINTIËRS 12:1-10

2 KORINTIËRS 12:1-10 NLV

As ek dan moet grootpraat – al is dit nou wel nie nuttig nie, sal ek uitkom by gesigte en openbarings deur die Here. Ek ken ’n man wat in ’n hegte verhouding met Christus staan. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, maar God weet. En ek weet ook dat hierdie man – of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, God weet – weggeruk is na die Paradys toe, en dat hy daar dinge gehoor het wat so verhewe is dat dit vir ’n mens onmoontlik is om dit in woorde uit te druk. Oor hierdie man sal ek spog, maar oor myself sal ek nie spog nie, behalwe oor my swakhede. Al sou ek ook wou spog, sou ek nie dwaas wees nie, want dan sou ek die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan sodat niemand méér oor my sal sê as wat hy van my sien en van my hoor nie, selfs nie as gevolg van die buitengewone openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my te kasty. Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontbe-rings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid