1 KORINTIËRS 1

1
Paulus en Sostenes skryf aan die gemeente in Korinte en stuur ’n seëngroet
1Hierdie brief kom van Paulus. Deur die wil van God is ek geroep om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Sostenes skryf hierdie brief saam met my.
2Ons skryf aan die gemeente van God in Korinte, julle vir wie God deur Christus Jesus vir Homself afgesonder en geroep het om sy eie mense te wees#1:2 Of om aan Hom toegewy te wees.. En verder skryf ons ook aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat Jesus Christus ons Here aanbid.
3Mag die genade#1:3, 4 Of onverdiende goedheid. en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.
Paulus sê dankie aan God
4Ek sê voortdurend vir God dankie vir julle, want Hy het julle, omdat julle met Christus Jesus verenig is, met genade#1:3, 4 Of onverdiende goedheid. oorlaai. 5Deur Hom het God julle in elke opsig ryk gemaak – ryk in elke vorm van welsprekendheid en kennis. 6Op hierdie manier is my boodskap aangaande Christus onder julle bevestig. 7Gevolglik ontbreek dit julle aan geen enkele genadegawe nie en sien julle gretig uit na Jesus Christus ons Here se verskyning by sy wederkoms.
8Hy sal julle enduit vas laat staan sodat, op die groot dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom, geen vinger na julle gewys sal kan word nie. 9God sal dit beslis vir julle doen, want Hy hou altyd by sy woord. Dit is tog Hý wat julle geroep het om in hierdie wonderlike persoonlike verhouding met sy Seun, Jesus Christus ons Here, te deel.
Daar mag nie verdeeldheid wees nie
10En nou, broers en susters#1:10, 11 Grondteks broers., pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie. 11Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel, my broers en susters#1:10, 11 Grondteks broers., dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom. 12Ek bedoel dat party van julle sê: Ek volg Paulus; ander weer: Ek volg Apollos; nog ander: Ek volg Petrus#1:12 Grondteks Sefas, die Aramese naam van Petrus.; en nog ander: Ek volg Christus. 13Dink julle regtig Christus kan so in stukkies verdeel word?
Paulus is tog beslis nie vir julle gekruisig nie! Of is julle dalk in Paulus se naam gedoop? 14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie behalwe Krispus en Gaius, 15want nou kan niemand beweer dat ek mense in my naam gedoop het nie.
16O ja, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop. Verder weet ek van niemand anders wat ek gedoop het nie. 17Julle moet verstaan dat Christus my nie in die eerste plek gestuur het om mense te doop nie; Hy het my gestuur om die Goeie Nuus#1:17 Of evangelie. te verkondig – en dit nie met allerlei woordkunsies nie, want daarmee verloor die kruis van Christus sy krag.
Die kruis getuig van Gód se wysheid
18Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. 19Soos die Skrif sê:
“Ek sal die wyse mense
se wysheid tot niet maak;
en die skerpsinniges
se briljante idees
sal Ek van die tafel vee.”#1:19 Jes 29:14.
20Wat het dus geword van die filosowe, die boekgeleerdes, die debatvoerders van hierdie wêreld? God het bewys hoe inherent dwaas die wysheid van hierdie wêreld in werklikheid is. 21Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red. 22Die Jode wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus#1:22 Of evangelie. te bevestig en die Grieke wil ’n vertoon van wysheid hê. 23Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid. 24Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God. 25Hierdie Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon.
26Broers en susters#1:26 Grondteks Broers., dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. 27Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dwaasheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry. 28Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk, ja, wat vir die wêreld glad nie ’n faktor is nie, het God uitgekies om wat vir die wêreld wel belangrik is, heeltemal af te skryf. 29Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie.
30Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het. 31Soos die Skrif dit stel:
“Die persoon wat graag wil spog,
mag net spog
oor wat die Here vir hom gedoen
het.”#1:31 Jer 9:24.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid