JOHANNES 4:46-54

JOHANNES 4:46-54 AFR83

Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar 'n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat.” Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid