1 KONINGS 19:14-21

1 KONINGS 19:14-21 AFR83

Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak. Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.” Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom. Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: “Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan.” Elia antwoord hom toe: “Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie.” Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid