Hooglied 5

5
Hy
1My liefste, ek het na my tuin toe gekom. Ek het mirre gepluk en dit met speserye gemeng. Ek het heuning geëet en wyn met melk gedrink.
Vroue van Jerusalem
Julle twee verliefdes moet eet en van die liefdesdrank drink. En gee julle dan oor aan die liefde tot die oggend aanbreek.
Sy
2Een nag het ek van my geliefde gedroom. Hy het aan die deur kom klop en gesê: “Liefste, maak oop. My duifie, laat my inkom. Ek was heelnag buite en my kop is nat van die dou en my hare van die reën.”
3“Ek kan nie,” het ek vir my geliefde gesê. “So pas het ek my uitgetrek en waarom weer aantrek? My voete het ek so pas gewas en waarom dit weer vuilmaak?”
4My geliefde het toe die deur probeer oopkry en my hart het van opwinding gebons.
5Naderhand het ek vinnig opgespring om die deur oop te maak. My hande was vol parfuum en my vingers het van die mirre gedrup. Ek het die handvatsel gedraai 6en die deur oopgeruk, maar my geliefde was weg. Ek wou net sy stem weer hoor en het hom in die strate gaan soek, maar tevergeefs. Oral het ek geroep, maar hy was weg.
7Die nagpolisie het my in die strate gekry en my aangerand. Een van die wagte op die muur het selfs my sluier afgeruk.
8Vroue van Jerusalem, belowe my dat as julle my geliefde kry, julle hom sal vertel. Van my liefde moet julle hom vertel en vir hom sê dat ek na hom gesmag het.
Vroue van Jerusalem
9Mooiste onder die vroue, waarom moet ons hom dit alles vertel? Wat maak hom dan so anders?
Sy
10O, my liefling is anders. Hy is mooier en sterker en beter as 1 000 ander.
11Sy voorkop blink soos suiwer goud en sy mooi, swart hare krul soos dadeltrosse in sy nek.
12Sy oë lyk soos twee duiwe by die stroom wat hulleself so pas gewas het.
13Sy wange is so mooi soos ’n tuin vol lekkerruikspeserye. Sy lippe is soos lelies nat van mirre.
14Sy hande is soos goudstawe waarin juwele ingelê is. Sy liggaam is soos ivoorpilare wat van al die saffiere gloei.
15Sy bobene is soos marmerpilare wat op goue voetstukke rus. Hulle is so sterk soos die seders van die Libanon.
16Sy mond is lekker om te soen. Alles aan hom begeer ek. Vroue van Jerusalem, dit is dan hoe my liefling lyk.

Tans Gekies:

Hooglied 5: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid