Jesaja 3

3
Chaos in Jerusalem en Juda
1Luister nou mooi, die Here die Almagtige gaan alles en almal waarop die mense van Jerusalem en Juda gereken het van hulle af wegvat. Al hulle kos, water en ander noodsaaklike lewensmiddele. 2Ook hulle leiers, elke soldaat, regter, profeet, waarsêer, amptenaar, 3offisier, hooggeplaaste, raadgewer, ambagsman en selfs dié wat met hulle toordery ’n invloed op mense uitoefen. 4Hy sal kinders en onervare jongmense aanstel om oor die volk te regeer. Hulle sal al die gesag hê. 5Mense sal mekaar uitbuit en benadeel. Kinders sal nie respek hê vir volwassenes of hulle gesag aanvaar nie. Nikswerd, oneerlike mense sal die eerbare mense uitlag.
6Mense van dieselfde familie sal in daardie tyd vir een van hulle familielede sê: “Luister, jy het darem nog klere, wees jy ons leier. Skep orde in hierdie chaos om ons!” 7Maar hy sal sê: “ Nee, dankie, ek stel nie belang om leiding te neem nie. Ek het nie eens genoeg kos en klere vir my eie gesin nie. Ek wil nie betrokke raak nie.” 8Jerusalem waggel soos iemand wat op sy laaste bene is en Juda het in duie gestort omdat hulle in woord en daad teen die Here in opstand gekom het en geweier het om sy gesag te aanvaar.
9Hulle gesigsuitdrukkings verraai hulle, hulle is skaamteloos bevooroordeeld. Hulle doen openlik sonde net soos Sodom, hulle probeer dit nie eers wegsteek nie. Daar wag geweldige swaarkry op hulle, maar hulle het dit oor hulleself gebring. 10Sê vir dié wat aan God gehoorsaam gebly het dat dit met hulle goed sal gaan. Daar wag ’n beloning vir hulle. 11Maar met die slegte mense sal dit moeilik gaan. Dit wat hulle aan ander mense gedoen het, sal nou na hulle toe terugkom. 12Fortuinsoekers en afpersers buit my volk uit. My volk, jou leiers is besig om jou te mislei en jou van koers af te bring.
Die Here se aanklag
13Die Here neem sy plek in die hofsaal in en die groot aanklaer is gereed om sy saak te stel. 14Die leiers en die hoë amptenare kom eerste aan die beurt: “Julle het my volk soos ’n wingerd gestroop en nou sit julle met die arm mense se besittings in julle huise. 15Wat het julle besiel om my volk so in die grond in te vertrap en die hulpeloses so uit te buit?” vra die Here my God, die Almagtige.
’n Waarskuwing aan Jerusalem se vroue
16Daarna sal die Here die vroue van Jerusalem aankla: “Kyk net ’n bietjie hoe verwaand is die vroue van Jerusalem. Hulle loop neus in die lug en knipoog skelm vir die mans om met hulle rond te flerrie. Hulle gee sulke klein trippeltreetjies om die ornamente om hulle enkels te laat klingel om aandag te trek. 17Daarom sal Ek,” sê die Here, “elkeen se sluier afruk en haar kop kaal laat skeer. Ek sal hulle met hulle kaal koppe in die straat laat rondloop.”
18Op dié dag sal die Here al hulle versiersels waarop hulle so trots is, wegvat: enkelringe, kettinkies met sonnetjies en maantjies, 19oorbelletjies en armbande, sluiers 20en kopdoeke, voetkettinkies, versierde gordels, parfuum en gelukbringertjies, 21ringe en neusringe, 22deftige partytjierokke, mantels en serpe, handsakkies 23en spieëltjies, fyn sakdoekies, kopdoekies en skouermanteltjies.
24In plaas van die geur van parfuum sal hulle vreeslik stink. In die plek van hulle versierde gordels sal hulle toue om hulle middel dra. Hulle sal kaalkop rondloop in plaas van hulle goed versorgde hare. In plaas van deftige en fyn rokke sal hulle growwe klere van sak dra. In plaas van hulle skoonheid van vroeër sal hulle die brandmerk van slawe dra. 25Al Jerusalem se mans sal in die oorlog omkom; selfs hulle dapperste soldate sal nie ontsnap nie. 26Daar sal ’n groot gehuil en getreur by die stad se hekke wees. Die stad sal soos ’n misbruikte vrou lyk wat kaal op ’n hopie in die stof bly sit.

Tans Gekies:

Jesaja 3: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid