Jesaja 2

2
Die volke sal na Jerusalem toe kom
1Hierdie is die boodskap wat die Here vir Jesaja, Amos se seun, gegee het oor Juda en Jerusalem.
2In die laaste dae sal die tempel van die Here in Jerusalem die belangrikste plek op aarde word. Mense van oor die hele aarde sal daarheen stroom om daar te kom aanbid. 3Volke sal daarnatoe kom en vir mekaar sê: “Kom ons gaan na die berg van die Here toe, waar die tempel van Israel se God is, sodat Hy ons kan leer wat Hy van ons verwag en ons dan daarvolgens kan lewe. Want die woord van die Here kom uit Jerusalem uit en Hy maak sy wil bekend van Sion af.” 4Die Here sal geskille tussen lande en volke oplos. Die gevolg hiervan sal wees dat hulle hulle swaarde sal smelt en eerder ploegskare daarvan sal maak. Van hulle spiese sal hulle snoeiskêre maak. Daar sal ’n einde kom aan oorlog en niemand sal meer opgelei word om te gaan veg nie. 5Kom, afstammelinge van Jakob, kom ons leef soos die Here van ons verwag om te leef.
Hoogmoedige mense kom tot ’n val
6Here, U het die afstammelinge van Jakob verwerp omdat hulle hulle oorgegee het aan Mesopotamiese bygelowe en net soos die Filistyne hulle met toordery besig hou. Hulle is al net so bygelowig soos hulle nuwe vriende met wie hulle omgaan. 7Hulle is skatryk en baie magtig met al die perde en strydwaens wat hulle besit. 8Maar hulle land is vol afgode en hulle aanbid hierdie nikswerd goed wat hulle met hulle eie hande gemaak het. 9So laag het die mense al gedaal. Here, moenie hulle hiermee laat wegkom nie!
10Gaan kruip weg in die grotte of in gate in die grond uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom. 11Daar kom ’n dag waarop die hoogmoediges tot ’n val kom en die verwaandes op hulle plek gesit sal word. Op dié dag sal dit net die Here wees wat geëer word.
12Op daardie dag sal die Here almal wat verwaand en hoogmoedig is, op hulle plek sit. 13Hy sal al die hoë sederbome van die Libanon en die groot akkerbome van Basan tot teen die grond afkap. 14Hy sal al die berge en heuwels met die grond gelykmaak. 15En die versterkte mure met hulle wagtorings sal Hy omgooi en vernietig. 16Hy sal al die groot handelskepe op die oop see en in die hawens vernietig. 17-18Op daardie dag sal die Here almal wat verwaand en hoogmoedig is op hulle plek sit, en al die afgode sal vernietig word. Net die Here alleen sal geëer word.
19Wanneer die Here die aarde met ’n aardbewing skud, sal die mense in grotte of in gate in die grond gaan wegkruip uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom. 20Op daardie dag sal hulle hulle wonderlike goue en silwerafgode net daar in die grotte en gate laat agterbly vir die vlermuise en die rotte. 21Wanneer die Here die aarde met ’n aardbewing skud, sal die mense in grotte en in skeure in die rotse gaan wegkruip uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom.
22Moenie op mense staatmaak nie, dit is net so dan blaas hulle hulle laaste asem uit. Want wat beteken ’n mens nou eintlik?

Tans Gekies:

Jesaja 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid