Handelinge 28:1-10

Handelinge 28:1-10 DB

Toe ons almal die veiligheid van die strand bereik het, het ons agtergekom dat ons op die eiland Malta was. Die mense wat daar gebly het, het ons met oop arms ontvang. Hulle het dadelik ’n groot vuur aangesteek omdat hulle gesien het dat ons baie koud kry. Boonop was ons almal papnat omdat dit intussen ook begin reën het. Almal het hout vir die groot vuur bymekaargemaak. Paulus het ook hand bygesit. Toe hy ’n bondel hout op die vuur kom neersit, het ’n giftige slang skielik tussen die hout uitgekom en hom aan sy hand gepik. Die inwoners van die eiland het die slang aan Paulus se hand sien hang en vir mekaar gesê: “Hierdie man is sekerlik ’n moordenaar. Hy was net gelukkig om lewendig uit die storm op die see te kom. Maar nou het die gode hom uiteindelik ingehaal. Nou betaal hulle hom terug vir sy misdaad.” Paulus het die gedierte afgeskud en dit in die vuur laat val. Hy het niks oorgekom nie. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou begin opswel van die slangbyt en doodgaan.Maar hy was springlewendig. Na ’n ruk het die mense van mening verander en vir mekaar gesê dat hy die een of ander god moet wees. Die hoofman van die eiland het ’n stuk grond daar naby besit. Sy naam was Publius. Hy het ons na sy huis genooi. Daar het ons die volgende drie dae as sy gaste deurgebring. Publius se pa was baie siek. Hy het ’n hoë koors gehad en ’n maagkwaal. Paulus het na sy kamer toe gegaan. Daar het hy sy hande op hom geplaas en vir hom gebid. Die man het dadelik gesond geword. Die nuus van die genesing het soos ’n veldbrand oor die eiland versprei. Kort voor lank het almal hulle siekes na Paulus toe gebring. Hy het hulle almal gesond gemaak. Aan die einde van ons verblyf op Malta het die mense ons ’n koninklike afskeid gegee. Hulle het ons oorlaai met geskenke en met al die nodige voorrade vir ons reis.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid