Handelinge 28:1-10

Handelinge 28:1-10 AFR20

Nadat ons veiligheid bereik het, het ons agtergekom dat die eiland Melite genoem word. Die plaaslike bevolking het buitengewone vriendelikheid aan ons betoon. Weens die dreigende reën en koue het hulle 'n vuur aangesteek, en ons almal verwelkom. Paulus het 'n hoop droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit. Van die hitte het 'n slang uitgekom en aan sy hand vasgebyt. Toe die plaaslike bevolking die gedierte aan sy hand sien hang, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man is beslis 'n moordenaar. Hy is uit die see gered, maar Dike het nie toegelaat dat hy bly leef nie.” Paulus het egter die gedierte in die vuur afgeskud, en was ongedeerd. Hulle het verwag dat hy sal begin opswel, of skielik dood neerslaan. Maar nadat hulle lank gewag en gesien het dat niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê dat hy 'n god is. In die omgewing van daardie plek was daar landerye wat behoort het aan die hoofman van die eiland, 'n man met die naam Publius. Hy het ons verwelkom en drie dae lank gasvry gehuisves. Dit het so gebeur dat Publius se vader siek aan koors en diarree in die bed gelê het. Paulus het na hom gegaan en vir hom gebid, sy hande op hom gelê en hom gesond gemaak. Ná hierdie voorval het die ander siekes op die eiland ook na hom gekom, en is gesond gemaak. Hulle het ons met eerbewyse oorlaai, en met ons vertrek vir ons alles gegee wat ons nodig gehad het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid