HANDELINGE 28:1-10

HANDELINGE 28:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Nadat ons veilig op die strand gekom het, het ons gehoor dat die naam van die eiland Malta is. Die mense op die eiland was baie vriendelik. Dit het gelyk of dit sal reën en dit was koud. Hulle het 'n vuur gemaak en hulle het ons na die vuur geneem. Paulus het 'n klomp droë hout opgetel en hy het dit op die vuur gegooi. Maar daar was 'n slang in die hout. Omdat die vuur warm was, het die slang uitgekom. Die slang het vir Paulus aan sy hand gebyt. Die mense wat op die eiland bly, het gesien die slang hang aan Paulus se hand. Hulle het vir mekaar gesê: “Hierdie man is 'n moordenaar, dit is seker. Die gode wil hom straf en doodmaak omdat hy verkeerd gedoen het. Die gode het gesien dat hy nie in die see verdrink het nie, nou sal die slang hom doodmaak!” Maar Paulus het die slang afgeskud, en dit het in die vuur geval. En daar het niks sleg met Paulus gebeur nie. Die mense het gedink dat Paulus sal opswel of dat hy sal val en sterf. Hulle het lank gewag en toe het hulle gesien dat daar niks met hom gebeur nie. Toe het hulle iets anders begin dink. Hulle het gesê dat Paulus 'n god is. Naby daardie plek was die grond van die hoof van die eiland. Die hoof se naam was Publius. Hy was vriendelik en hy het vir ons plek gegee om te bly, drie dae lank. Publius se pa was siek. Hy het koors gehad en sy maag was baie deurmekaar en het gewerk. Paulus het na hom toe gegaan en hy het vir hom gebid. Paulus het sy hande op hom gesit en hy het hom gesond gemaak. Nadat dit gebeur het, het ander mense wat op die eiland gewoon het en wat siek was, ook na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak. Hulle het vir ons baie goed gegee wat gewys het dat hulle ons respekteer. Hulle het ook vir ons alles gegee wat ons moes hê toe ons weer weggeseil het met 'n skip.

HANDELINGE 28:1-10 Die Boodskap (DB)

Toe ons almal die veiligheid van die strand bereik het, het ons agtergekom dat ons op die eiland Malta was. Die mense wat daar gebly het, het ons met oop arms ontvang. Hulle het dadelik ’n groot vuur aangesteek omdat hulle gesien het dat ons baie koud kry. Boonop was ons almal papnat omdat dit intussen ook begin reën het. Almal het hout vir die groot vuur bymekaargemaak. Paulus het ook hand bygesit. Toe hy ’n bondel hout op die vuur kom neersit, het ’n giftige slang skielik tussen die hout uitgekom en hom aan sy hand gepik. Die inwoners van die eiland het die slang aan Paulus se hand sien hang en vir mekaar gesê: “Hierdie man is sekerlik ’n moordenaar. Hy was net gelukkig om lewendig uit die storm op die see te kom. Maar nou het die gode hom uiteindelik ingehaal. Nou betaal hulle hom terug vir sy misdaad.” Paulus het die gedierte afgeskud en dit in die vuur laat val. Hy het niks oorgekom nie. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou begin opswel van die slangbyt en doodgaan.Maar hy was springlewendig. Na ’n ruk het die mense van mening verander en vir mekaar gesê dat hy die een of ander god moet wees. Die hoofman van die eiland het ’n stuk grond daar naby besit. Sy naam was Publius. Hy het ons na sy huis genooi. Daar het ons die volgende drie dae as sy gaste deurgebring. Publius se pa was baie siek. Hy het ’n hoë koors gehad en ’n maagkwaal. Paulus het na sy kamer toe gegaan. Daar het hy sy hande op hom geplaas en vir hom gebid. Die man het dadelik gesond geword. Die nuus van die genesing het soos ’n veldbrand oor die eiland versprei. Kort voor lank het almal hulle siekes na Paulus toe gebring. Hy het hulle almal gesond gemaak. Aan die einde van ons verblyf op Malta het die mense ons ’n koninklike afskeid gegee. Hulle het ons oorlaai met geskenke en met al die nodige voorrade vir ons reis.

HANDELINGE 28:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons uitgevind dat die eiland Malta genoem word. Die inboorlinge was buitengewoon vriendelik teenoor ons. Dit het begin reën en dit was koud. Hulle het toe ’n vuur aangesteek en ons almal genooi om daar te kom sit. Paulus het ’n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar ’n slang uitgekom en hom aan sy hand gepik. Toe die inboorlinge die gedierte aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is beslis ’n moordenaar. Al is hy uit die see gered, het geregtigheid hom nie toegelaat om te bly lewe nie.” Paulus het egter die ongedierte in die vuur afgeskud en geen nagevolge gehad nie. Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik morsdood neerslaan, maar nadat hulle ’n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en begin sê hy is ’n god. Daar was ’n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, ’n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik as sy gaste gehuisves. Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak. Ná hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland gekom, en is hulle gesond gemaak. Hulle het ons met baie eerbewyse oorlaai, en toe ons wou wegvaar, het hulle vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid