2 Kronieke 6

6
1Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê dat Hy in donkerte wil woon. 2Maar ek het vir U ’n waardige huis gebou, ’n plek waarin U vir altyd kan woon.”
Salomo se toespraak
3Salomo het toe omgedraai en die hele Israel wat daar voor hom gestaan het, geseën. 4Hy het vir hulle gesê: “Ek loof die Here wat gedoen het wat Hy vir my pa, Dawid, belowe het. 5Die Here het vir hom gesê: ‘Sedert die tyd toe Ek my volk uit Egipte gelei het, het Ek geen stad gekies waar ’n tempel tot my eer gebou moes word nie. Ek het ook nie ’n koning gekies om my volk te lei nie. 6Maar nou het Ek Jerusalem as daardie stad en Dawid as daardie koning gekies.’”
7Salomo het voortgegaan: “My pa, Dawid, wou die tempel baie graag bou om die Here se Naam te vereer. 8Die Here het egter vir hom gesê: ‘Dit is goed dat jy vir My ’n tempel wil bou, 9maar dit sal nie jy wees wat die tempel bou nie. Een van jou seuns sal dit doen.’
10“Nou het die Here sy belofte nagekom: ek het koning geword in my pa se plek en ek het die tempel tot eer van die Here, die God van Israel, gebou. 11Ek het die ark in die tempel gesit. Die ark is die simbool van die ooreenkoms wat die Here met Israel gesluit het.”
Salomo se gebed vir homself
12Salomo het voor die hele volk by die altaar van die Here gaan staan en sy hande uitgesteek. 13Hy het op ’n bronsverhoog gestaan wat hy in die binneruimte van die tempel gesit het. Die verhoog was vierkantig met sye van twee en ’n half meter lank. Dit was ’n meter en ’n half hoog. Hy het op die verhoog geklim en voor die hele gemeente van Israel neergekniel en sy hande na die hemel uitgesteek. 14Toe sê hy: “O Here, God van Israel! Daar is nie in die hemel of op die aarde nog ’n god soos U nie. U hou u beloftes en bewys liefde aan almal wat aan U gehoorsaam is en wat graag doen wat U vra. 15U het u belofte gehou wat U aan u dienaar Dawid, my pa, gemaak het. U het die belofte gemaak en nou het U dit uitgevoer. 16O Here, voer tog nou ook die ander beloftes uit wat U aan hom gemaak het. U het vir hom gesê: ‘As jou nakomelinge reg optree en doen wat Ek vra, soos jy gedoen het, sal Ek sorg dat daar altyd een van hulle oor Israel regeer.’ 17Laat dit tog nou waar word, o Here.
18“Sal God nou werklik op aarde tussen mense kom woon? Die ganse hemel is te klein vir U. Hoeveel minder kan hierdie tempel wat ek gebou het U huisves! 19Luister tog na my gebed en my versoek, o Here. Hoor my uitroep tot U! 20Pas tog die tempel wat U self as woonplek gekies het, dag en nag op. Dan sal U my gebede hoor wat ek na hierdie tempel toe rig.”
Salomo se gebed vir die volk
21“Mag U altyd die nederige en ernstige gebede hoor wat ek en my volk na hierdie plek toe rig. Mag U luister van waar U in die hemel woon en mag U ons vergewe as ons teen U sonde doen.
22“As iemand ’n ander te na kom en hy word deur ’n vloek verplig om hier by die altaar in die tempel ’n belofte voor U af te lê, 23luister tog uit die hemel daarna. Laat reg geskied. Laat die skuldige sy straf kry en die onskuldige vry uitgaan, soos wat reg is.
24“As ’n vyand u volk Israel verslaan omdat hulle sonde gedoen het, en as hulle hulle dan bekeer en dit erken en hier in die tempel tot U kom bid, 25luister tog uit die hemel. Vergewe hulle sonde en gee weer vir hulle die land wat U aan hulle voorouers gegee het.
26“As dit ophou reën as gevolg van hulle sonde en hulle kom bid in die tempel, as hulle U vra om hulle te vergewe nadat U hulle verneder het en hulle hou op met hulle sonde, 27luister dan tog uit die hemel. Vergewe u volk se sondes. Leer hulle wat reg is en gee weer reën oor die land wat U vir hulle gegee het.
28“As daar hongersnood in die land kom; of siektes, plae, sprinkane of ruspes bedreig u mense; of as die vyand hulle stede aanval; watter gevaar daar ook al dreig, 29en u volk bid hier oor hulle probleme tot U, 30luister dan tog uit die hemel waar U woon. Vergewe hulle. Gee aan elkeen wat hulle verdien, want U ken mense se diepste motiewe. 31Dan sal hulle leer wat reg is vir U en dit doen. So sal hulle dan lank lewe in die land wat U vir ons voorouers gegee het.
32“As dit gebeur dat ’n vreemdeling, soos iemand uit ’n ver land, van U hoor en hier by die tempel tot U kom bid, 33luister dan tog uit die hemel waar U woon. Gee vir die vreemdeling wat hy van U vra. Dan sal al die mense op aarde U leer ken en U dien soos Israel dit doen. Hulle sal dan weet dat dié tempel wat ek gebou het, ter ere van u Naam gebou is.
34“As U volk op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in die rigting van Jerusalem en die tempel wat ek vir U gebou het, 35luister dan tog uit die hemel na hulle gebed. Laat gebeur wat reg is.
36“As hulle teen U sonde doen (en is daar ’n mens wat nie sonde doen nie?), kan U dalk kwaad word en hulle vyand toelaat om hulle te oorwin en weg te voer na ’n vreemde land. 37Hulle kan daar in die vreemde land besef dat hulle verkeerd was en hulle bekeer. As hulle dan bely: ‘Ons het sonde gedoen, ons was verkeerd en goddeloos,’ 38en hulle bekeer hulle tot U en bid in die rigting van Jerusalem, na dié tempel wat ek vir U gebou het, 39luister dan uit die hemel waar U woon na hulle gebed. Vergewe hulle.”
Slot van die gebed
40“O God, luister tog na al die gebede wat hiervandaan tot U gebid sal word. 41“Kom, Here, na u rusplek toe. Kom na u ark toe wat wys hoe sterk U is. Laat u priesters net doen wat reg is. Laat die mense wat U dien, van vreugde sing. 42Moenie die een vergeet wat U spesiaal as koning aangewys het nie, al is dit net ter wille van Dawid.”

Tans Gekies:

2 Kronieke 6: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid