2 Kronieke 5

5
Die ark word na die tempel gebring
1Al die bouwerk aan die tempel van die Here is voltooi. Daarna het Salomo al die skatte wat sy pa, koning Dawid, vir die Here gegee het, na die tempel toe gebring. Hy het die silwer en goud en al die gereedskap in die tempel se skatkamers gebêre.
2Salomo het toe al die familiehoofde van Israel in Jerusalem byeengeroep. Die doel was om die ark van die verbond van die Here uit Sion, die Stad van Dawid, na die tempel toe te neem. 3Almal het op die feesdag, wat in die sewende maand geval het, by die koning bymekaargekom. 4Toe al die leiers van Israel daar bymekaar was, het die Leviete die ark opgetel. 5Hulle het die ark en die tent waar die Here aanbid is en al die heilige voorwerpe wat by die tent gehoort het, saamgebring. Die Levitiese priesters het dit na die tempel toe opgedra.
6Koning Salomo en die hele gemeenskap wat saam met hom voor die ark bymekaar was, het skape en beeste begin offer. Hulle het soveel diere geoffer dat ’n mens nie kon byhou om te tel nie.
7Die priesters het toe die ark in die Allerheiligste plek in die tempel ingebring en dit onder die vlerke van die gerubs neergesit. 8Die gerubs se vlerke was só uitgesprei dat hulle die hele ark, met draaghoute en al, bedek het. 9Die draaghoute was so lank dat ’n mens hulle van die ingang van die Heilige vertrek af kon sien, maar nie van buite af nie. Dit is nog steeds so. 10Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het. Hy het dit gedoen toe die Here ’n ooreenkoms met Israel aangegaan het, nadat hulle uit Egipte vertrek het.
Die Here neem die tempel in besit
11Die priesters het toe die Heilige plek verlaat. Al die priesters, of dit dié dag hulle diensbeurt was of nie, het hulleself gereinig soos wat die Here se voorskrifte bepaal. 12Al die Levitiese sangers, dit is al die groepe van Asaf, Heman en Jedutun, het hulle linneklere aangehad. Hulle het oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere, en daar was omtrent 120 priesters met trompette by hulle. 13Die trompetspelers en sangers het saam die Here geprys en gedank. Met die begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle hard begin sing en die Here met die volgende woorde geloof: “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Net toe het ’n wolk die tempel van die Here heeltemal volgemaak. 14Die priesters kon nie met hulle werk aangaan nie, want die Here se heerlikheid was binne-in die tempel.

Tans Gekies:

2 Kronieke 5: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid