1 Samuel 23:19-28

1 Samuel 23:19-28 DB

Daar het mense van Sif na Saul toe in Gibea gegaan en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar by ons wegkruip. Hy is in die veilige plekke by Goresa daar op die Gakilarant suid van die Jeshimonwoestyn. As U Majesteit dan nou graag daarheen wil kom, kan u gerus kom. Ons sal sorg dat U majesteit hom in die hande kry.” “Die Here sal nog goed wees vir julle omdat julle vir my omgee,” het Saul gesê. “Gaan nou terug, dan maak julle weer doodseker: julle moet weet waar sy lêplek is, waar hy rondloop en wie hom gesien het. Hulle sê vir my hy is baie skelm. Maak seker dat julle al die plekke waar hy wegkruip, goed ken. Kom dan terug na my toe met goeie inligting. As hy in die omgewing is, sal ek saam met julle gaan en hom uitsnuffel tussen al die mense van Juda.” Die mense het teruggegaan Sif toe. Saul sou later daarheen gaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die Arabavlakte suid van die Jeshimonwoestyn. Saul en sy manskappe het die soektog begin. Toe Dawid dit hoor, het hy afgegaan na die rotskop in die Maonwoestyn en daar gebly. Dit het by Saul uitgekom, en hy is agter Dawid aan, die Maonwoestyn in. Saul het al langs die een kant van die kop getrek, terwyl Dawid aan die ander kant van die kop so al wat hy kan probeer om van Saul af weg te kom. Toe Saul en sy manne op die punt is om Dawid en sy manne te omsingel en hulle vas te trek, kom daar ’n boodskapper by Saul aan en sê vir hom: “Maak baie gou, die Filistyne is besig met strooptogte in die land!” Saul het toe opgehou om Dawid te probeer vang en teruggegaan om teen die Filistyne te veg. Dit is waarom hulle die plek Skeidingrots noem.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 23:19-28

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid