1 Samuel 23:19-28

1 Samuel 23:19-28 AFR20

Sifiete het na Saul in Gibea opgegaan en gesê: “Hou Dawid hom nie daar by ons skuil in die bergskuilings by Goresa, op die heuwel van Hagila suid van Jesimon nie? As u, o koning, dan nou graag wil afkom na ons, kom gerus af! Dit sal ons verantwoordelikheid wees om hom in die hand van die koning oor te lewer.” Saul het gesê: “Mag julle deur die HERE geseën word, omdat julle medelye met my het. Gaan tref verdere voorbereidings. Maak seker en bekyk sy plek – waar sy spore is, wie hom daar gesien het. Want hulle sê vir my hy is baie geslepe. Gaan kyk, en maak seker van al die plekke waar hy wegkruip, en kom dan terug na my toe met betroubare inligting. Ek sal dan met julle saamgaan, en as hy wel in die landstreek is, sal ek hom opspoor tussen al die familiegroepe van Juda.” Hulle het toe gereedgemaak en voor Saul uit na Sif gegaan. Dawid en sy manne was in die woestyn van Maon, in die Araba, suid van Jesimon. Saul en sy manne het hom toe gaan soek. Dawid is daaroor ingelig, en hy het na die rotsskuiling afgetrek en in die woestyn van Maon gebly. Toe Saul dit hoor, het hy Dawid in die woestyn van Maon agtervolg. Saul het al langs die een kant van die berg getrek, en Dawid en sy manne al langs die ander kant van die berg. Dawid het haastig op die vlug geslaan om van Saul af weg te kom, maar Saul en sy manne was besig om Dawid en sy manne te omsingel om hulle gevange te neem. 'n Boodskapper het egter by Saul aangekom en gesê: “Maak tog gou en kom, want die Filistyne het 'n aanval geloods op die land!” Saul het Dawid toe nie verder agtervolg nie en die Filistyne tegemoetgetrek. Daarom noem hulle daardie plek Sela-Hammaglekot.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 23:19-28

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid