1 SAMUEL 23:19-28

1 SAMUEL 23:19-28 Bybel vir almal (ABA)

Mense van die stad Sif het na Saul toe gegaan in Gibea en hulle het vir hom gesê: “Dawid kruip weg by ons in die berge by Goresa. Hy is op die Gakila-berg suid van die droë woestyn. Koning, jy moet nou sê wat jy wil hê. As jy wil kom, dan moet jy kom, ons sal jou help om vir Dawid te vang.” Saul het vir die mense van Sif gesê: “Ek bid dat die Here goed sal wees vir julle omdat julle jammer is vir my. Julle moet asseblief gaan en julle moet goed kyk waar julle Dawid se spore sien en waar mense hom gesien het. Iemand het vir my gesê dat Dawid baie slim is. Julle moet goed kyk waar hy oral wegkruip en julle moet vir my kom sê presies waar hy is. Dan sal ek saam met julle gaan, en as hy nog in die land is, dan sal ek hom soek en ek sal hom kry tussen al die duisende mense in Juda.” Die mense van Sif het gereedgemaak en hulle het teruggegaan na Sif voordat Saul gekom het. Dawid en sy manne was toe in die Maon-woestyn. Hulle was in die vallei waar niks plante groei nie, suid van die droë woestyn. Saul en sy manne het vir Dawid gaan soek, maar Dawid het gehoor dat hulle hom kom soek het en hy het afgegaan na die groot klip in die Maon-woestyn. Saul het gehoor dat Dawid daar is en hy het vir Dawid gevolg en gejaag. Saul het teen die een kant van die berg geloop en Dawid en sy manne het teen die ander kant van die berg geloop. Dawid het vinnig geloop om weg te kom van Saul, maar Saul en sy manne het vir Dawid en sy manne van al die kante vasgekeer om hulle te vang. Toe kom daar 'n boodskapper by Saul en hy sê: “Jy moet gou kom, want die Filistyne het in die land gekom en hulle vat alles wat hulle kan kry.” Saul het toe opgehou om vir Dawid te volg en te jaag, en hy het teen die Filistyne gaan oorlog maak. Dit is hoekom die mense daardie plek noem “Die groot klip waar hulle weggegaan het van mekaar.”

1 SAMUEL 23:19-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarna het daar Sifiete opgegaan na Saul, na Gíbea, en gesê: Steek Dawid hom nie weg by ons in die bergvestings, in Hores, op die heuwel Hagíla wat suid van die wildernis lê nie? En is dit nou na u hartelus om af te kom, o koning, kom dan af, en ons sal sorg om hom in die hand van die koning uit te lewer. En Saul sê: Mag julle geseënd wees deur die HERE, omdat julle medelyde met my gehad het. Gaan tog heen, maak verder klaar en ondersoek en bekyk die plek waar sy spoor is, wie hom daar gesien het; want aan my is gesê dat hy baie listig is. Daarom, bekyk en ondersoek al die skuilplekke waar hy hom wegsteek, en kom verseker na my terug, dan sal ek met julle saamgaan; en as hy in die land is, sal ek hom opspoor onder al die geslagte van Juda. En hulle het klaargemaak en voor Saul uit na Sif gegaan, terwyl Dawid en sy manne in die woestyn Maon was, in die Vlakte suid van die wildernis. Toe Saul met sy manne trek om hom te soek, is dit aan Dawid geboodskap; daarom het hy afgetrek na die rots en in die woestyn Maon gebly. Maar Saul het dit gehoor en Dawid agternagejaag, die woestyn Maon in. En Saul het aan hierdie kant van die berg getrek, maar Dawid met sy manne was aan die ander kant van die berg. En toe Dawid in angs vlug om van Saul weg te kom, terwyl Saul en sy manne Dawid en sy manne omsingel om hulle te vang, kom daar 'n boodskapper by Saul en sê: Maak gou en kom, want die Filistyne het 'n inval in die land gedoen. Daarop het Saul omgedraai en Dawid nie meer agternagejaag nie, maar die Filistyne tegemoetgetrek. Daarom noem hulle daardie plek Rots van Skeiding.

1 SAMUEL 23:19-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Siffiete na Saul in Gibea toe gegaan en gesê: “Dawid kruip by ons weg in die skuilplekke in Goresa, op die Gakilarant suid van die onherbergsame gebied. U Majesteit, as dit dan nou u begeerte is om op te trek, trek op en ons sal sorg dat hy aan u uitgelewer word.” Toe antwoord Saul: “Mag die Here julle seën omdat julle saam met my voel. Gaan dan nou, stel weer vas waar Dawid is, kyk goed en verken die plek: waar sy spore is en wie hom daar gesien het, want iemand het vir my gesê hy is baie uitgeslape. Gaan kyk en stel haarfyn vas waar hy oral skuil. Bring vir my sekerheid terug. Dan sal ek saamgaan. Indien hy nog in die land is, sal ek hom opspoor met al die afdelings van Juda.” Die Siffiete het klaargemaak en voor Saul uit na Sif toe gegaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die vlakte suid van die onherbergsame streek. Toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, is dit aan Dawid vertel, en hy het na die kliprant toe gegaan, nog in die Maonwoestyn. Saul het dit verneem en Dawid in die Maonwoestyn agtervolg. Saul het aan die een kant van die berg langs gegaan, en Dawid en sy manne net aan die ander kant. En toe Dawid bang voor Saul wegvlug, terwyl Saul en sy manskappe al vir Dawid en sy manne begin omsingel om hulle te vang, kom daar 'n boodskapper by Saul en sê: “Maak gou en kom, want die Filistyne het die land ingeval.” Saul het opgehou om Dawid te agtervolg en het die Filistyne tegemoet gegaan. Daarom noem hulle die plek Skeidingsrant.

1 SAMUEL 23:19-28 Die Boodskap (DB)

Daar het mense van Sif na Saul toe in Gibea gegaan en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar by ons wegkruip. Hy is in die veilige plekke by Goresa daar op die Gakilarant suid van die Jeshimonwoestyn. As U Majesteit dan nou graag daarheen wil kom, kan u gerus kom. Ons sal sorg dat U majesteit hom in die hande kry.” “Die Here sal nog goed wees vir julle omdat julle vir my omgee,” het Saul gesê. “Gaan nou terug, dan maak julle weer doodseker: julle moet weet waar sy lêplek is, waar hy rondloop en wie hom gesien het. Hulle sê vir my hy is baie skelm. Maak seker dat julle al die plekke waar hy wegkruip, goed ken. Kom dan terug na my toe met goeie inligting. As hy in die omgewing is, sal ek saam met julle gaan en hom uitsnuffel tussen al die mense van Juda.” Die mense het teruggegaan Sif toe. Saul sou later daarheen gaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die Arabavlakte suid van die Jeshimonwoestyn. Saul en sy manskappe het die soektog begin. Toe Dawid dit hoor, het hy afgegaan na die rotskop in die Maonwoestyn en daar gebly. Dit het by Saul uitgekom, en hy is agter Dawid aan, die Maonwoestyn in. Saul het al langs die een kant van die kop getrek, terwyl Dawid aan die ander kant van die kop so al wat hy kan probeer om van Saul af weg te kom. Toe Saul en sy manne op die punt is om Dawid en sy manne te omsingel en hulle vas te trek, kom daar ’n boodskapper by Saul aan en sê vir hom: “Maak baie gou, die Filistyne is besig met strooptogte in die land!” Saul het toe opgehou om Dawid te probeer vang en teruggegaan om teen die Filistyne te veg. Dit is waarom hulle die plek Skeidingrots noem.

1 SAMUEL 23:19-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die mense van Sif gaan toe na Saul in Gibea en sê: “Dawid kruip weg by ons in die skuilplekke van Goresa op die Gakilahoogte wat suid van die woestyn is. As dit vir die koning goed is, kom hierheen, en ons sal hom aan u uitlewer!” “Mag die HERE julle seën,” sê Saul. “Daar is tog mense wat vir my omgee. Gaan kyk en maak seker waar hy hom bevind en wie hom gesien het, want ek het verneem hy is baie uitgeslape. Soek sy skuilplek en bring vir my meer inligting. Dan sal ek saam met julle gaan. As hy hoegenaamd in die omgewing is, sal ek hom opspoor onder al die duisende in Juda!” Hulle het toe voor Saul uit teruggegaan na Sif toe. Intussen het Dawid en sy krygers verskuif na die Maonwoestyn in die dorre landstreek suid van die woestyn. Toe Dawid hoor dat Saul en sy leër hom soek, het hy nog dieper die woestyn ingetrek na die groot rots in die woestyn van Maon. Maar Saul het dit gehoor en hom in die Maonwoestyn agtervolg. Saul het aan die een kant om die berg gegaan, en Dawid en sy manskappe aan die ander kant. Dawid het haastig van Saul se leër probeer ontvlug. Net toe Saul en sy magte op die punt was om Dawid en sy manne vas te trek, ontvang Saul ’n dringende boodskap: “Maak gou! Die Filistyne is besig om strooptogte in Israel uit te voer!” Saul moes toe noodgedwonge die agtervolging staak en terugkeer huis toe om die Filistynse inval te keer. Van toe af is daardie plek die Rots van Skeiding genoem.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid