MARKUS 5:21-43

MARKUS 5:21-43 AFR53

EN toe Jesus weer in die skuit oorgevaar het na die ander kant, het 'n groot menigte by Hom vergader. En Hy was by die see. En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe. En Hy het saam met hom gegaan. En 'n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring. En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het, het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak; want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word. En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was. En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak? En sy dissipels antwoord Hom: U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak? Toe kyk Hy rond om haar te sien wat dit gedoen het. Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid. En Hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees. Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig? Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net. En Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. En Hy kom in die huis van die owerste van die sinagoge en sien 'n rumoer: mense wat baie ween en huil. En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag. Maar Hy het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê. Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas. En Hy het hulle met nadruk beveel dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat daar vir haar iets te ete gegee moes word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid