MARKUS 5:21-43

MARKUS 5:21-43 AFR83

Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het 'n groot menigte om Hom saamgedrom. Een van die raadslede van die sinagoge, 'n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” Hy het saam met hom gegaan. 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk. Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger. Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?” Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?” Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.” Hulle het Hom uitgelag. Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid