Romeine 16

16
Aanbeveling, groete en laaste opdragte
1Ek beveel ons suster Febe by julle aan, wat 'n dienares in die •gemeente van Kenchreë is. 2Ontvang haar in die Here, soos dit die •heiliges betaam, en staan haar by in enige saak waarin sy julle nodig mag kry. Sy was 'n ware weldoener vir baie mense, en ook vir my.
3Groet Priska en Akwila, my medewerkers in •Christus Jesus. 4Hulle het hulle lewens vir my op die spel geplaas. Dis nie net ek wat teenoor hulle dankbaar is nie, maar ook al die gemeentes onder die heidene.
5Groet ook die gemeente by hulle aan huis.
Groet my geliefde Epenetus – hy is die eersteling in Christus uit die provinsie Asië.
6Groet Maria, wat so hard vir julle gewerk het.
7Groet Andronikus en Junia, my volksgenote en medegevangenes. Hulle is hoog aangeskrewe by die •apostels en wat reeds voor my in Christus was.
8Groet Ampliatus, my geliefde vriend in die Here.
9Groet ook Urbanus, ons medewerker in Christus, en my geliefde Stagis.
10Groet Apelles, wat in Christus beproef is, en groet ook diegene uit die familie van Aristobulus.
11Groet Herodion, my volksgenoot.
Groet diegene uit die familie van Narsissus wat in die Here is.
12Groet Trifena en Trifosa, harde werkers vir die Here.
Groet ook my geliefde Persis, wat baie hard vir die Here gewerk het.
13Groet Rufus, uitverkorene in die Here, sowel as sy moeder, wat ook vir my 'n moeder was.
14Groet Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas, en die broers wat saam met hulle is.
15Groet Filologus en Julia, Nereus en sy suster Olimpas, en al die •heiliges saam met hulle.
16Groet mekaar met 'n heilige soen.
Al die gemeentes van •Christus groet julle.
17Ek doen 'n beroep op julle, broers, om mense in die oog te hou wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, in stryd met die leer waarin julle onderrig is. Bly weg van hulle af. 18Want hierdie soort mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie maag. Met strelende woorde en vleitaal mislei hulle die harte van naïewe mense. 19Julle gehoorsaamheid is aan almal bekend. Daarom is ek bly oor julle, en ek wil hê dat julle wys sal wees ten opsigte van die goeie, en onskuldig ten opsigte van die kwaad. 20 Die God van vrede sal Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus bly met julle!
21Timoteus, my medewerker, groet julle; so ook Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote.
22Ek, Tertius, wat hierdie brief neergeskryf het, groet julle in die Here.
23Gaius, my en die hele gemeente se gasheer, groet julle.
Erastus, die stadstesourier, groet julle, ook die broer Kwartus. 24 Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle almal. •Amen.
Lof aan God
25 Aan Hom wat magtig is om julle te versterk, volgens die evangelie van Jesus •Christus wat ek verkondig, en volgens die openbaring van die misterie, wat eeue lank verswyg was, 26maar wat nou in opdrag van die Ewige God deur die geskrifte van die profete onthul en aan alle nasies bekend gemaak is, om hulle tot geloofsgehoorsaamheid te bring – 27 aan Hom, die enigste en alwyse God, kom toe die heerlikheid deur Jesus Christus, vir ewig! •Amen.

Tans Gekies:

Romeine 16: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid