Openbaring 1:9-20

Openbaring 1:9-20 AFR20

Ek, Johannes, julle broer en 'n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus •Christus. Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my 'n harde stem, soos dié van 'n basuin, gehoor wat sê: “Skryf wat jy sien in 'n boekrol op, en stuur dit aan die sewe •gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, en in die middel van die kandelare, iemand net soos die •Seun van die Mens. Hy het 'n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met 'n goue band wat om sy bors vasgebind was. Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vlammende vuur. Sy voete was net soos gloeiende koper in 'n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar 'n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn. Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos 'n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, en wat hierna gaan gebeur. Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid