DIE OPENBARING 1:9-20

DIE OPENBARING 1:9-20 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Johannes, is 'n gelowige soos julle. Ek en julle kry saam swaar, God regeer oor ons almal, en ons is geduldig, soos Jesus geduldig was. Ek was 'n gevangene op die eiland Patmos omdat ek vir mense vertel het wat God en Jesus gesê het. Die Gees het op die dag van die Here in my gekom, en ek het gehoor Iemand praat hard agter my, so hard soos 'n trompet. Hy het gesê: “Ek sal vir jou dinge wys, en jy moet al daardie dinge in 'n boek skryf. Dan moet jy die boek vir die sewe gemeentes stuur, vir die gemeentes in die stede Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie praat met my. Toe ek omdraai, sien ek sewe goue lampe. Ek het gesien tussen die lampe is daar Iemand wat soos die Seun van die mens gelyk het. Hy het 'n lang bo-kleed gedra, en om sy bors was daar 'n goue belt. Sy kop en sy hare was so wit soos wol, so wit soos sneeu. Sy oë was soos 'n vuurvlam. Sy voete was soos blink koper wat in 'n oond gesmelt het. Sy stem was soos wanneer baie water raas. In sy regter-hand het Hy sewe sterre vasgehou. Daar het 'n swaard uit sy mond gekom, die swaard was baie skerp. Sy gesig het geblink soos wanneer die son baie helder skyn. Toe ek Hom sien, het ek op die grond voor sy voete geval, ek het daar gelê soos iemand wat dood is. Maar Hy het sy regter-hand op my gesit en vir my gesê: “Jy moenie bang wees nie, want Ek is die Eerste en die Laaste, Ek lewe altyd. Ek het gesterf, maar nou lewe Ek! Ja, Ek lewe altyd. Ek het die sleutels om die plek oop te sluit waar die mense is wat gesterf het, Ek kan die mense in die doderyk weer laat lewe. Daarom moet jy die dinge neerskryf wat jy gesien het, die dinge wat nou gebeur en die dinge wat later sal gebeur. Jy het sewe sterre in my regter-hand gesien en sewe lampe. Die sewe lampe beteken sewe gemeentes. Die sewe sterre beteken die sewe engele van die gemeentes.”

DIE OPENBARING 1:9-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EK, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus. Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my 'n groot stem gehoor, soos van 'n basuin, wat sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in 'n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa. Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag. En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood. Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is sowel as die wat gaan gebeur; die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.

DIE OPENBARING 1:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van 'n trompet, 'n stem hoor sê: “Skrywe wat jy sien in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur. En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes.”

DIE OPENBARING 1:9-20 Die Boodskap (DB)

Ek, Johannes, is julle geestelike broer. Soos julle kry ek ook swaar omdat ek ’n Christen is. Maar ek is ook deel van die magtige God se mense. Daarom raak die swaarkry my nie baas nie. Ek behoort mos aan Jesus. So van swaarkry gepraat, ek sit hier op die eiland Patmos omdat ek oor God se boodskap preek en mense met oortuiging van Jesus vertel. Een Sondag het die Heilige Gees weer kragtig in my gewerk. Ek hoor toe ’n verskriklik harde stem agter my praat; dit was byna of iemand met ’n trompet hier naby my oor blaas om my aandag te trek. “Skryf alles wat jy sien en beleef letter vir letter in ’n boek neer. Stuur dit dan aan die volgende sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek draai toe versigtig om om te sien wie so met my praat. Met die omdraai val my oog op sewe kandelare. Hulle was baie werd, want hulle was van goud gemaak. Hierdie kandelare, sou ek agterkom, is eintlik die sewe gemeentes aan wie ek skryf. Tussen hierdie kandelare het ek Iemand sien staan. Dit het vir my gelyk soos die Seun, die Een wat van God af sou kom om finaal te kom sê wat God oor die mense besluit het. Hy het pragtige klere aangehad, soos dié wat belangrike mense dra. Soos die heel belangrikste priester van ouds het hy goud om sy bors gedra. Dit het gewys hoe belangrik Hy regtig is. Sy wysheid kon ’n mens sien aan sy spierwit hare. Dit was ook duidelik dat niemand iets vir daardie gloeiende oë kon wegsteek nie. Sy voete was soos warm geelkoper wat net uit die oond gekom het. Waar daardie voete trap, bly niks oor nie! Wanneer Hy praat, is dit oorverdowend, soos baie harde reën op ’n sinkdak. Mense se stem verdof eenvoudig. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehou. Die sterre is die leiers van die sewe gemeentes wat moes sorg dat dit in die gemeentes gaan soos Jesus dit wil hê. Uit sy mond het ’n swaard gekom. Dit was aan al twee kante vlymskerp. Waar sy oordeelswoorde moet sny, sal dit kan sny! En die oorwinning en glans op sy gesig - dit was soos die son wat op sy helderste skyn. Toe ek Hom sien, het ek so klein gevoel voor sy grootheid dat ek net daar voor Hom neergesak het. So magteloos soos die kleinste wurmpie het ek voor Hom bly lê. Hy kon met my maak wat Hy wou. Maar toe voel ek sy sterk regterhand op my en hoor Hom met my praat: “Moenie bang wees nie. Ek was voor die skepping al daar. En wanneer alles tot ’n einde kom, sal Ek nog daar wees. Ek is die Een wat leef, maar ook lewe kan gee. Ek het mos gesterf, maar lyk Ek vir jou dood? Nee, Ek leef: nie net nou nie, maar vir ewig en altyd. Ek het die sleutels wat die deur na die dood oop- en toesluit. Ek besluit wie bly dood en wie nie. “Toe, Johannes, skryf neer wat jy sien en ervaar. Jy sal dinge sien wat nou aan die gang is en dinge wat nog voorlê.”

DIE OPENBARING 1:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek is Johannes, julle medegelowige. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding. Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het. Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees en het reg agter my ’n harde stem, soos ’n trompet, hoor sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het toe omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Nadat ek omgedraai het, het ek sewe goue kandelare gesien en in die middel van die kandelare Iemand soos die Seun van die Mens. Hy het ’n kleed aangehad wat tot op sy voete gehang het en ’n goue band was om sy bors vasgemaak. Sy kop en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam. Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smeltoond gloei en sy stem soos die geluid van baie waterstrome. In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid. Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ’n lyk. Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees, Ek is die Eerste en die Laaste, en die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Skryf op wat jy gesien het: wat nou besig is om te gebeur en wat hierna gaan gebeur. En dit is die geheim van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe voorgangers van die sewe gemeentes en die sewe kandelare is die sewe gemeentes self.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid