Spreuke 9

9
Uitnodiging deur Wysheid
1 Wysheid het haar huis gebou,
sy het haar sewe pilare uitgekap.
2Sy het haar slaggoed geslag,
haar wyn gemeng,
en ook haar tafel voorberei.
3Sy het haar diensmeisies gestuur;
sy roep uit vanaf die hoogste plekke
in die stad:
4“Wie onkundig is,
moet hierheen afdraai!”
Vir dié sonder verstand, het sy gesê:
5“Kom, eet van my brood,
en drink van die wyn
wat ek gemeng het!
6Bly weg van onkundiges, en leef!
Betree die weg van insig!
7 “Wie 'n spotter vermaan,
haal vir homself skande
op die hals,
en wie 'n goddelose teregwys,
kry 'n klad op sy naam.
8Moenie 'n spotter teregwys nie,
anders haat hy jou;
wys 'n wyse tereg,
en hy sal jou liefhê.
9Gee aan 'n wyse,
en hy word nog wyser;
deel kennis mee aan 'n regverdige,
en sy geleerdheid neem toe.
10 Die begin van wysheid
is ontsag vir die Here,
en kennis van die Heilige is insig.
11 “Ja, deur my, Wysheid,
word jou lewensdae meer,
word daar vir jou lewensjare
bygevoeg.
12 As jy wys is,
is jy wys tot jou voordeel,
maar as jy spot,
dra jy alleen die gevolge.”
Uitnodiging deur Dwaasheid
13 Vrou Dwaasheid is luidrugtig,
onbesonne, en weet niks.
14Sy sit by die ingang na haar huis,
op 'n troon op die hoogste plek
in die stad,
15om te roep na hulle
wat op die pad verbygaan,
wat reguit loop op hulle paaie:
16“Wie onkundig is,
moet hierheen afdraai!”
Vir dié sonder verstand,
het sy gesê:
17 “Gesteelde water is soet,
en brood in die geheim geëet,
is smaaklik.”
18 Maar hy weet nie
dat die skimme daar is nie;
in die dieptes van die •doderyk
is haar genooides.

Tans Gekies:

Spreuke 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid