Spreuke 10

10
Spreuke oor goed en kwaad
1Spreuke van Salomo.
'n Wyse seun verheug sy vader,
maar 'n dwase seun
doen sy moeder verdriet aan.
2 Skatte deur onreg verkry,
baat niks nie,
maar geregtigheid red van die dood.
3 Die Here laat die keel
van 'n regverdige nie honger ly nie,
maar die gulsigheid van goddeloses
dwarsboom Hy.
4 'n Trae hand maak arm,
maar die hand van vlytiges
maak ryk.
5 Wie in die somer versamel,
is 'n verstandige seun;
wie in die oestyd vas slaap,
is 'n seun wat skande maak.
6 Seëninge is bedoel vir die kop
van 'n regverdige,
maar die mond van goddeloses
verberg geweld.
7 Herinnering aan 'n regverdige
is tot seën,
maar die roem van goddeloses verrot.
8 Wie 'n wyse hart het,
aanvaar gebooie;
maar wie dwase lippe het,
kom tot 'n val.
9 Wie onberispelik leef, leef veilig;
maar wie sy paaie vol kinkels maak,
word betrap.
10 Wie met sy oog knik,
veroorsaak droefheid,
en wie dwase lippe het,
kom tot 'n val.
11 'n Bron van lewe
is die mond van 'n regverdige,
maar die mond van goddeloses
verberg geweld.
12Haat verwek tweedrag,
maar liefde bedek alle oortredings.
13 Op die lippe van 'n verstandige
word wysheid gevind,
maar 'n lat is vir die rug
van iemand sonder verstand.
14 Wyses hou kennis in bewaring,
maar die mond van 'n sot
huisves dreigende ondergang.
15 Die besittings van 'n ryke
is sy sterk stad;
die ondergang van armes
is hulle armoede.
16 Die verdienste van 'n regverdige
lei na die lewe;
die inkomste van 'n goddelose
lei na sonde.
17 Wie ag slaan op vermaning,
is op pad na lewe;
maar wie teregwysing
in die wind slaan,
lei ander op 'n dwaalweg.
18 Wie haat verberg,
het leuenagtige lippe,
en wie 'n gerug versprei,
is 'n dwaas.
19 By 'n oorvloed woorde
bly oortredings nie uit nie;
maar wie sy lippe in bedwang hou,
is verstandig.
20 Uitgesoekte silwer
is op die tong van 'n regverdige;
die gedagtes van goddeloses
is min werd.
21 Die lippe van 'n regverdige
voed vele;
maar sotte sterf deur 'n gebrek
aan verstand.
22 Die seën van die Here
dit is wat ryk maak,
en harde werk voeg daar niks by nie.
23 Soos dit vir 'n dwaas 'n plesier is
om 'n skandelike daad te begaan,
so is wysheid
vir 'n skerpsinnige mens.
24 Wat 'n goddelose vrees,
dit kom hom oor;
maar wat regverdiges begeer,
dit gee God.
25 Wanneer 'n storm verbytrek,
is 'n goddelose nie meer daar nie,
maar 'n regverdige
is 'n ewige fondament.
26 Soos asyn vir die tande
en rook vir die oë,
so is 'n leeglêer vir die een
wat hom stuur.
27 Ontsag vir die Here
verleng die lewensdae,
maar die jare van goddeloses
word kortgeknip.
28 Die verwagting van regverdiges
is vreugde,
maar die hoop van goddeloses
vergaan.
29 Die weg van die Here
is 'n toevlug
vir wie onberispelik is,
maar dit bring ondergang
vir boosdoeners.
30 'n Regverdige sal nooit wankel nie,
en goddeloses sal die land
nie bewoon nie.
31 Die mond van 'n regverdige
bring wysheid voort,
maar 'n verworde tong word afgesny.
32Die lippe van 'n regverdige
weet wat aanvaarbaar is,
maar die mond van goddeloses
verdraai woorde.

Tans Gekies:

Spreuke 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid