Spreuke 16

16
1 'n Mens kry sy gedagtes agtermekaar,
maar die antwoord van die tong
kom van die Here.
2 Al die weë van 'n mens
is onbesproke in sy eie oë,
maar die een wat die geeste toets,
is die Here.
3 Vertrou wat jy doen
aan die Here toe,
dan sal jou planne standhou.
4 Die Here het sy doel met alles;
selfs 'n goddelose bestaan
vir die dag van onheil.
5 Afstootlik vir die Here is elkeen
met 'n hoogmoedige hart;
dit staan vas:
So iemand sal nie ongestraf bly nie.
6 Deur troue liefde en waarheid
word sondeskuld bedek,
en deur ontsag vir die Here
vermy 'n mens die kwaad.
7 Wanneer die Here tevrede is
met 'n mens se lewenspaaie,
laat Hy selfs sy vyande
met hom vrede maak.
8 'n Bietjie, saam met geregtigheid,
is beter as 'n groot inkomste
verkry deur onreg.
9 Die hart van 'n mens beplan sy pad,
maar die Here bepaal sy voetstappe.
10 'n Orakelspreuk is op die lippe
van 'n koning;
by 'n vonnis mag sy mond
nie ontrou wees nie.
11 'n Skaal, 'n betroubare weegskaal,
is van die Here;
al die gewigte in die sak
is sy handewerk.
12 Afstootlik vir konings
is die pleeg van 'n goddelose daad,
want deur geregtigheid
staan 'n troon vas.
13 Regverdige lippe
stel konings tevrede,
en hulle het die een lief
wat die regte dinge sê.
14 Die woede van 'n koning
is 'n boodskapper van die dood,
maar 'n wyse mens
bring dit tot bedaring.
15In die stralende gesig
van 'n koning is daar lewe,
en sy goedkeuring is soos die wolke
van laatreëns.
16 Die verkryging van wysheid –
hoeveel beter is dit nie as goud nie!
Die verkryging van insig
is verkieslik bo silwer.
17 Die gebaande weg van opregtes
is om weg te draai van die kwaad;
wie sy lewe wil beskerm,
gee ag op sy lewenspad.
18 Voor ineenstorting is daar trots,
en voor die val is daar
'n hooghartige gees.
19'n Nederige gees
saam met magteloses
is beter as om buit te verdeel
saam met hovaardiges.
20 Wie hom toespits op 'n saak,
sal sukses behaal,
en wie op die Here vertrou,
is gelukkig.
21 Wie wys van hart is,
word verstandig genoem,
en soetheid van lippe
bevorder onderrig.
22 Begrip is 'n bron van lewe
vir die besitters daarvan,
maar die vermaning van sotte
is sotheid.
23 Die hart van 'n wyse
maak sy mond verstandig
en bevorder die onderrig op sy lippe.
24Vriendelike woorde
is 'n heuningkoek wat oorloop –
soet vir die keel en helend
vir die gebeente.
25 Daar is 'n pad wat vir 'n mens
reg lyk,
maar dit eindig by paaie na die dood.
26 Die eetlus van 'n werker
laat hom hard werk;
ja, sy mond spoor hom aan.
27 'n Deugniet grawe onheil uit,
en op sy lippe is dit
soos 'n versengende vuur.
28'n Verdorwe mens ontketen stryd,
en 'n kwaadstoker
skei boesemvriende.
29'n Man van geweld
verlei sy medemens,
en laat hom 'n pad loop
wat nie goed is nie.
30Wie sy oë toeknyp,
is besig om verdorwe dinge
te beplan;
wie sy lippe saampers,
het die kwaad reeds gedoen.
31 'n Sierlike kroon is grysheid;
op die pad van geregtigheid
word dit gevind.
32 'n Geduldige mens
is beter as 'n held,
en wie sy gees beheers,
is beter as iemand
wat 'n stad inneem.
33 Die lot word gewerp
in die vou van die kleed,
maar elke beslissing daarvan
kom van die Here.

Tans Gekies:

Spreuke 16: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid