Spreuke 15

15
1 'n Sagte antwoord
keer woede weg,
maar 'n krenkende woord
laat toorn opvlam.
2 Die tong van wyses
maak kennis lofwaardig,
maar die mond van dwase
stort sotheid uit.
3Op elke plek is die oë van die Here,
hulle hou slegtes en goeies dop.
4Kalmte van die tong
is 'n boom van lewe,
maar verdorwenheid daarvan
breek die gees.
5 'n Sot versmaai die vermaning
van sy vader,
maar hy wat teregwysing
ter harte neem, is slim.
6 In die huis van 'n regverdige
is daar baie voorraad,
maar in die opbrengs van 'n goddelose
skuil daar teenspoed.
7 Die lippe van wyses
strooi kennis uit,
maar die hart van dwase
is nie so nie.
8 Die offer van goddeloses
is afstootlik vir die Here,
maar die gebed van opregtes
geniet sy goedkeuring.
9Afstootlik vir die Here
is die pad van 'n goddelose,
maar wie geregtigheid nastreef,
vir hom is Hy lief.
10 'n Ernstige vermaning is gepas
vir hom wat die pad verlaat;
wie teregwysing haat, sal sterf.
11Die •doderyk en die onderwêreld
lê oop voor die Here
hoeveel te meer die harte
van mensekinders!
12 'n Spotter hou nie daarvan
as iemand hom teregwys nie;
na wyses sal hy nie gaan nie.
13'n Vrolike hart
laat die gesig goed lyk,
maar by kommer in die hart
is die gees neerslagtig.
14Die hart van 'n verstandige
soek kennis,
maar die monde van dwase
word gevoed met sotheid.
15Al die lewensdae
van 'n magtelose is sleg,
maar vrolikheid van hart
is 'n voortdurende fees.
16 'n Bietjie, saam met ontsag
vir die Here,
is beter as 'n groot skat
met paniek daarby.
17'n Porsie groente
met liefde daarby
is beter as 'n vetgevoerde bees
met haat daarby.
18 'n Opvlieënde man
sit 'n stryery aan die gang,
maar 'n geduldige mens
bring 'n geskil tot bedaring.
19 Die pad van 'n luiaard
is soos 'n doringheining
vol dorings,
maar die weg van opregtes is gebaan.
20 'n Wyse seun verbly sy vader,
maar 'n dwase mens minag
sy moeder.
21Sotheid is 'n vreugde vir iemand
sonder verstand,
maar 'n skerpsinnige mens
loop 'n reguit pad.
22Planne misluk waar daar
geen beraadslaging is nie,
maar met baie raadgewers
hou dit stand.
23 'n Mens ervaar vreugde
met die gepaste antwoord
uit sy mond;
ja, 'n woord op sy tyd –
hoe goed is dit nie!
24 Die weg na lewe lei opwaarts
vir 'n verstandige mens,
om so die doderyk daar onder
te ontwyk.
25Die Here breek die huis
van hovaardiges af,
maar die gebied van 'n weduwee
baken Hy af.
26Die planne van 'n bose mens
is vir die Here afstootlik,
maar vriendelike woorde is suiwer.
27Wie onregverdige wins maak,
stort sy huis in die ongeluk,
maar hy wat omkoopgeskenke haat,
sal leef.
28 Die hart van 'n regverdige
oorweeg hoe om te antwoord,
maar die mond van goddeloses
stort booshede uit.
29 Die Here is ver van goddeloses,
maar die gebed van regverdiges
hoor Hy.
30 Helder oë verheug die hart,
'n goeie berig verfris die liggaam.
31'n Oor wat luister
na die teregwysing van die lewe,
sal by wyses tuis wees.
32Wie vermaning in die wind slaan,
verag sy eie lewe,
maar wie na teregwysing luister,
verkry verstand.
Spreuke oor goeie gedrag
33 Ontsag vir die Here
is 'n vermaning tot wysheid,
en nederigheid gaan eer vooraf.

Tans Gekies:

Spreuke 15: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid