Filippense 3

3
Kennis van Christus
1Verder, my broers, wees bly in die Here. Om dieselfde dinge aan julle te skryf, is nie vir my moeite nie, en aan julle gee dit vastigheid. 2Waak teen die honde! Waak teen die kwaadstokers! Waak teen die afsnyding!
3 Want ons is die besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op •Christus Jesus beroem, en nie op die liggaamlike dinge vertrou nie, 4al het ek self rede om op menslike dinge te vertrou. As iemand anders dink dat hy op menslike dinge kan vertrou, ek nog meer –
5Ek is besny op die agtste dag,
afkomstig uit die volk Israel,
uit die stam van Benjamin,
'n Hebreër uit die Hebreërs;
wat die wet betref, 'n •Fariseër,
6wat ywer betref,
'n vervolger van die •kerk,
wat •geregtigheid op grond van
wetsbeoefening betref,
onberispelik.
7 Maar alles wat vir my wins was,
reken ek nou as verlies,
ter wille van Christus.
8Inderdaad reken ek alles as verlies,
ter wille van die uitnemendheid
daarvan om Christus Jesus,
my Here, te ken.
Ter wille van Hom,
het alles vir my 'n verlies geword,
en beskou ek dit as vullis,
sodat ek Christus as wins kan verkry,
9en in Hom bevind kan word –
nie met my eie geregtigheid
op grond van die wet nie,
maar met die geregtigheid
deur geloof in Christus,
die regverdiging wat van God kom,
deur die geloof –
10en sodat ek Christus kan ken,
die krag van sy opstanding,
en die verbondenheid met sy lyding,
deur aan sy dood gelykvormig te word,
11 en ek so, hoe dan ook,
die opstanding uit die dood kan bereik.
12Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. 13Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. 14 Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. 15Laat ons, wat geestelik volwasse is, so hieroor dink; maar as julle anders hieroor dink, sal God dit wel aan julle bekend maak. 16In elk geval, laat ons die pas volhou in ooreenstemming met dit wat ons bereik het.
17Broers, volg dan my voorbeeld, en let op hulle wat so leef volgens die voorbeeld wat ons aan julle gestel het, 18want baie, van wie ek dit dikwels vir julle gesê het, en nou weer in trane sê, leef as vyande van die kruis van •Christus. 19Hulle einde is die verderf, die maag is hulle god, hulle eer is geleë in hulle skande – hulle wat aardse dinge bedink.
20Ons burgerskap is egter in die hemel,
vanwaar ons as Verlosser
die Here Jesus Christus verwag.
21Hy sal ons nederige liggaam verander,
om gelykvormig te word
aan sy verheerlikte liggaam,
deur die krag wat Hom
in staat stel om alles
aan Homself te onderwerp.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid