Filippense 2

2
1Daarom, as daar enige aansporing in •Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, 2maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; 3deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; 4 deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.
5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het,
8het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam
geword het tot die dood toe,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook uitermate verhoog
en aan Hom die Naam geskenk
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elke knie sal buig –
van diegene in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde –
11en elke tong sal bely,
“Jesus Christus is die Here!”
tot eer van God die Vader.
Ligdraers in die wêreld
12Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. 13 Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. 14Doen alles sonder kla en teenpraat, 15sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van 'n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, 16deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van •Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie. 17Maar al word ek ook as •drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. 18Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my.
Sending van Timoteus en Epafroditus
19Ek hoop in die Here Jesus om Timoteus gou na julle te stuur, sodat ek ook bemoedig kan word wanneer ek julle omstandighede leer ken het. 20Want ek het geen ander geesgenoot wat hom opreg oor julle omstandighede sal bekommer nie. 21 Almal soek net hulle eie belang, nie dié van Jesus •Christus nie. 22Julle weet hoe Timoteus homself bewys het, hoe hy soos 'n kind teenoor sy vader, saam met my die evangelie bedien het. 23Ek hoop dus om hom te stuur, so gou as wat ek weet wat my omstandighede gaan wees. 24Ek vertrou op die Here dat ek ook self gou sal kom.
25Ek ag dit noodsaaklik om Epafroditus, my broer, medewerker en medestryder en julle gesant, my helper in nood, na julle te stuur. 26Hy het immers gedurig na julle almal verlang en was baie ontsteld omdat julle gehoor het dat hy siek geword het. 27Hy was werklik tot die dood toe siek, maar God het Hom ontferm, nie net oor hom nie, maar ook oor my, sodat ek nie een verdriet ná die ander sou ervaar nie. 28Daarom stuur ek hom nog dringender terug, sodat julle hom kan sien en weer bly kan wees, en ek minder bekommerd. 29 Ontvang hom dan in die Here met groot blydskap, en respekteer mense soos hy, 30want deur sy werk vir Christus het hy na aan die dood gekom: Hy het sy lewe gewaag om, waar julle hulp aan my tekort geskiet het, dit aan te vul.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid