Numeri 11:4-35

Numeri 11:4-35 AFR20

Die gepeupel wat tussen die Israeliete was, het baie gulsig geraak. Ook die Israeliete het weer gekerm en gesê: “As iemand ons tog maar net vleis sal gee om te eet! Ons onthou die vis wat ons in Egipte geëet het, verniet; ook die komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel. Maar nou is ons kele droog; daar is absoluut niks behalwe hierdie manna waarteen ons moet vaskyk nie.” Die manna was soos koljandersaad en het die kleur van balsemhars gehad. Die volk het rondgegaan, dit bymekaargemaak en dan met maalklippe gemaal of in vysels fyngestamp. Hulle het dit in potte gekook en roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het gesmaak soos iets wat met olie gebak is. Wanneer die dou snags op die kamp afgekom het, het die manna daarmee saam afgekom. Moses het die volk hoor kerm, in hulle familiegroepe, elkeen by die ingang van sy tent. Die toorn van die HERE het hewig ontbrand. In die oë van Moses was dit verkeerd. Moses sê toe vir die HERE: “Waarom maak U dit moeilik vir u dienskneg? Waarom vind ek nie genade in u oë nie? Om darem die las van hierdie hele volk op my te plaas! Het ék dan swanger geraak met hierdie hele volk of het ék aan hulle geboorte gegee, dat U vir my sê, ‘Dra hulle teen jou bors soos 'n pleegouer 'n suigeling dra’ na die grond wat U aan hulle voorouers met 'n eed beloof het? Waar moet ek vleis kry om vir hierdie hele volk te gee? Want hulle kerm by my en sê, ‘Gee vir ons vleis, sodat ons kan eet!’ Alleen kan ek hierdie hele volk nie dra nie, want dit is te veeleisend vir my. As U so met my wil maak, maak my dan maar dadelik dood. As ek genade in u oë gevind het, laat my dan nie my ellende aanskou nie.” Die HERE sê toe vir Moses: “Maak vir my sewentig man uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy die ervaring het dat hulle die oudstes van die volk en opsieners is. Neem hulle dan na die Tent van Ontmoeting en laat hulle daar by jou staan. Ek sal afkom en daar met jou praat. Ek sal 'n deel van die Gees wat op jou rus, wegneem en op hulle plaas. Hulle sal dan saam met jou die las van die volk dra sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie. “ Vir die volk moet jy sê, ‘Heilig julleself teen môre, dan sal julle vleis eet. Want julle het in die ore van die HERE gekerm en gesê, “As iemand ons maar net vleis sal gee om te eet! Dit was immers vir ons goed in Egipte.” Die HERE sal vir julle vleis gee, en julle sal eet. Julle sal nie net een dag eet nie, nie twee dae, nie vyf dae, nie tien dae of twintig dae nie, maar 'n volle maand lank, totdat dit by julle ore uitkom en julle walg, omdat julle die HERE wat in julle midde was, verwerp en voor Hom gekerm het deur te sê, “Waarvoor het ons uit Egipte weggetrek?” ’ ” Daarop het Moses gesê: “Seshonderdduisend mense te voet is die volk in wie se midde ek is, en U sê, ‘Vleis sal Ek vir hulle gee, sodat hulle 'n maand lank sal eet.’ Kan daar kleinvee en beeste vir hulle geslag word, sodat daar vir hulle genoeg is? Sal daar vir hulle genoeg wees as al die visse in die see vir hulle gevang word?” Maar die HERE het Moses geantwoord: “Is die HERE se hand te kort? Nou sal jy sien of my woord vir jou waar word of nie.” Moses het uitgegaan en die HERE se woorde aan die volk meegedeel. Hy het sewentig man onder die oudstes van die volk bymekaargemaak en hulle rondom die tent laat staan. Die HERE het toe in die wolk afgekom en met hom gepraat. Hy het van die Gees, wat op Moses was, weggeneem en op die sewentig man, die oudstes, laat kom. Terwyl die Gees op hulle rus, het hulle vurig geprofeteer, maar daarna nie weer nie. Twee manne het egter in die kamp agtergebly, die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Hulle was onder dié wat ingeskryf is, maar hulle het nie na die tent toe uitgegaan nie. Die Gees het ook op hulle gerus en hulle het in die kamp vurig geprofeteer. 'n Jong man het gehardloop en dit vir Moses vertel en gesê: “Eldad en Medad profeteer vurig in die kamp.” Josua, seun van Nun, wat van jongs af vir Moses diens gedoen het, het daarop gereageer; hy het gesê: “Moses, my heer, laat hulle ophou!” Maar Moses het vir hom gesê: “Is jy oorywerig ter wille van my? Ag, was die hele volk van die HERE maar profete, dat die HERE sy Gees oor hulle sou laat kom!” Moses het daarna na die kamp teruggekeer, hy en die oudstes van Israel. 'n Wind wat van die HERE af kom, het toe opgesteek. Dit het kwartels van die see af aangewaai, en hulle oor die kamp gelos – ongeveer twee el bo die grond, 'n dagreis ver aan alle kante rondom die kamp. Die volk het daardie hele dag, die hele nag en ook die hele volgende dag opgebly en kwartels bymekaargemaak. Die een wat die minste gehad het, het tien gomer bymekaargemaak. En hulle het dit vir hulleself oral rondom die kamp uitgesprei. Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit klaar gekou is, toe die HERE se toorn teen die volk ontbrand. Hy het 'n baie groot slagting onder die volk aangerig. Daardie plek is toe Kibrot-Taäwa genoem, want daar is die gulsige volk begrawe. Vanaf Kibrot-Taäwa het die volk verder getrek na Gaserot, en hulle het in Gaserot gebly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid