NUMERI 11:4-35

NUMERI 11:4-35 Bybel vir almal (ABA)

Eendag het 'n paar slegte mense wat tussen die Israeliete was, baie lus geword vir vleis. Die Israeliete het ook gehuil en gevra: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die vis wat ons in Egipte kon eet, ons het nie daarvoor betaal nie. En ons dink aan die komkommers, die spanspekke, die preie, die uie en die knoffel. Maar nou moet ons droë kos eet. Ons sien net manna, niks ander kos nie.” Die manna was soos koljander-saad en dit het geblink soos 'n boom se gom. Die mense het gegaan en hulle het die manna bymekaargemaak. Hulle het dit gemaal op maalklippe of dit fyngestamp in stampblokke, en dan het hulle dit gekook en koekies daarvan gemaak. Die koekies het gesmaak soos olyfolie-koekies. Wanneer die dou in die nag in die kamp geval het, dan het die manna saam met die dou geval. Moses het gehoor dat die mense huil, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here was baie kwaad, en Moses was bang en ontsteld daaroor. Moses het vir die Here gevra: “Hoekom laat U my swaarkry? Ek is u dienaar. Hoekom is U onvriendelik met my? U het gesê ek moet hierdie hele volk dra, en dit is 'n swaar vrag om te dra. Ek is nie hulle ma nie, maar U sê vir my ek moet hulle soos 'n kinder-oppasser teen my bors dra na die land wat U aan hulle voorvaders belowe het. Waar moet ek vleis kry vir al hierdie mense? Want hulle huil by my en hulle sê ek moet vir hulle vleis gee om te eet. Ek kan nie hierdie hele volk alleen dra nie, dit is te swaar vir my. As U my so swaar wil laat kry, dan sal dit beter wees as U my doodmaak, dit sal beter wees vir my. U moenie my so swaar laat kry nie.” Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet vir My 70 van Israel se leiers laat bymekaarkom. Jy weet wie is goeie leiers en voormanne. Jy moet hulle neem na die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, en jy moet hulle daar by jou laat staan. Ek sal afkom en daar met jou praat en Ek sal van die gees wat in jou is, neem en dit in hulle laat kom. Dan kan hulle saam met jou die volk dra en dan moet jy dit nie alleen doen nie. En jy moet vir die volk sê: Julle moet julleself wy vir môre, want môre sal julle vleis eet. Die Here het gehoor dat julle gehuil en gekla het. Julle het gesê: ‘Wie sal hier vir ons vleis gee om te eet? Dit was vir ons beter in Egipte.’ Die Here sal môre vir julle vleis gee en julle sal dit eet. Julle sal nie een dag lank eet nie, nie twee dae nie, nie vyf dae nie, nie tien dae nie, nie 20 dae lank nie, nee, julle sal 'n hele maand lank eet, totdat die vleis by julle neuse uitkom en julle naar word daarvan. Want julle het gewys dat die Here nie vir julle belangrik is nie, die Here wat tussen julle is. Hy het gehoor dat julle huil en vra: ‘Hoekom het ons weggegaan uit Egipte?’ ” Toe sê Moses vir die Here: “Daar is 600 000 manne hier by my wat oorlog kan maak, en U sê U sal vir hulle vleis gee en hulle sal 'n maand lank eet. Is daar genoeg skape en beeste en bokke om vir hulle te slag? Sal al die vis in die see genoeg wees as ons dit kry en dit vir hulle bymekaarmaak?” Die Here het vir Moses gesê: “Dink jy dat Ek dit nie kan doen nie? Jy sal nou sien of dit wat Ek gesê het, sal gebeur of nie.” Moses het uitgegaan en hy het vir die volk gesê wat die Here gesê het. Toe het hy 70 van die leiers van Israel laat bymekaarkom en hy het gesê hulle moet rondom die tent staan. Daarna het die Here in 'n wolk afgekom en Hy het met Moses gepraat. Die Here het van die gees geneem wat in Moses was, en Hy het dit in die 70 leiers gesit. En toe die gees in die 70 manne kom, het hulle soos profete gepraat. Maar hulle het dit net daardie een maal gedoen. Twee manne, Eldad en Medad, het nie uitgegaan na die tent nie, hulle het in die kamp gebly. Hulle name was ook by die name van die 70 leiers. Toe die gees in hulle kom, het hulle daar in die kamp soos profete begin praat. 'n Jongman het gehardloop en hy het vir Moses gaan sê dat Eldad en Medad besig is om in die kamp soos profete te praat. Josua seun van Nun het vir Moses gewerk vandat hy klein was. Hy het gesê: “Meneer Moses, jy moet hulle stop.” Maar Moses het gesê: “Is jy bekommerd oor my? Ek wens die Here gee vir sy hele volk van sy Gees, sodat hulle almal profete kan wees.” Moses en die leiers van Israel het toe teruggegaan na die kamp. Die Here het toe 'n wind gestuur, en die wind het van die see af kwartels gebring en by die kamp laat val. Die kwartels het omtrent twee el diep op die grond gelê, omtrent so ver soos 'n mens in een dag kan loop langs al die kante van die kamp. Die mense het begin en hulle het daardie hele dag en die hele nag en die hele dag daarna kwartels bymekaargemaak. Die minste wat een persoon bymekaargemaak het, was tien gomer. Hulle het die kwartels rondom die kamp gegooi om droog te word. Die mense het begin eet, maar hulle het nog nie die vleis in hulle monde begin kou nie, toe laat die Here baie van hulle sterf, want Hy was kwaad vir hulle. Hulle het die mense daar begrawe, die mense wat so lus was vir vleis, en hulle het die plek genoem “Lus-grafte.” Die volk het van Lus-grafte verder gegaan, en hulle het gekom by die stad Gaserot.

NUMERI 11:4-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. Maar nou is ons siel dor; daar's glad niks nie: net die manna is voor ons oë. Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom. Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke. En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval. Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van die HERE het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses. En Moses sê aan die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos 'n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met 'n eed beloof het? Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet. Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie. Toe sê die HERE aan Moses: Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en sy opsigters is, en bring hulle by die tent van samekoms, dat hulle daar by jou kan staan. Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie. En aan die volk moet jy sê: Heilig julle teen môre; dan sal julle vleis eet. Want julle het voor die ore van die HERE geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? want dit was vir ons goed in Egipte. Daarom sal die HERE vir julle vleis gee, en julle sal eet. Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie — 'n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die HERE wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek? Toe sê Moses: Seshonderdduisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal 'n hele maand lank eet! Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is? Maar die HERE sê vir Moses: Sou die hand van die HERE te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie. Toe het Moses uitgegaan en die woorde van die HERE aan die volk te kenne gegee; en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie. Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus — hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die tent uitgegaan het nie — en hulle het in die laer geprofeteer. Toe hardloop 'n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer. En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit! Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die HERE maar profete was, dat die HERE sy Gees oor hulle mag gee! Daarop het Moses hom in die laer teruggetrek, hy en die oudstes van Israel. Toe het 'n wind wat van die HERE kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent 'n dagreis hier en omtrent 'n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond. Toe het die volk opgestaan daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag en die kwartels versamel. Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel. En hulle het dit oral vir hulle uitgesprei rondom die laer. Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die HERE alreeds teen die volk ontvlam het, en die HERE het onder die volk 'n baie groot slagting teweeggebring. Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattáäwa; want daar het hulle die volk begrawe wat so begerig was. Van Kibrot-Hattáäwa af het die volk weggetrek na Háserot toe, en hulle het in Háserot gebly.

NUMERI 11:4-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het 'n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: “As ons tog net vleis gehad het om te eet! Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!” Die manna was soos koljandersaad en het gelyk soos balsemgom. Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak. Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval. Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë. Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos 'n oppasser met 'n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het’? Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’ Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is. Neem hulle na die tent van ontmoeting toe en laat hulle daar by jou staan. Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie. Vir die volk moet jy sê: Reinig julle vir môreoggend, dan sal julle vleis eet. Die Here het gehoor hoe julle kla en sê: ‘As ons tog net vleis gehad het om te eet; in Egipte was dit vir ons goed!’ Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet! Julle sal nie net een dag of twee of vyf of tien of twintig dae eet nie, maar 'n hele maand lank, totdat julle daarvan naar word en daarvan walg, omdat julle die Here wat by julle is, getart het, en Hom verwyt het met die woorde: Waarom is ons tog uit Egipte weg?” Moses het toe gesê: “Hier is ek tussen ses honderd duisend mense, almal te voet, en U sê U sal vir hulle vleis gee, sodat hulle 'n hele maand lank daarvan kan eet! Sal daar genoeg skape en beeste vir hulle geslag kan word? Sal hulle genoeg hê as al die vis in die see vir hulle gevang word?” Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.” Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en 'n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie. Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree. 'n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!” Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!” Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan. Die Here het toe 'n wind gestuur en dit het kwartels van die see se kant af aangebring en hulle rondom die kamp laat val, omtrent 'n dagreis ver na alle kante toe en omtrent 'n meter diep op die grond. Die volk het daardie hele dag en die hele nag en ook die volgende dag uitgegaan en kwartels bymekaargemaak. Elkeen het minstens 'n ton vleis bymekaargemaak en dit rondom die kamp oopgegooi. Die vleis was nog tussen hulle tande, hulle het nog nie begin kou nie, toe ontvlam die toorn van die Here teen die volk. Hy het baie van hulle om die lewe gebring. Hulle het dié plek Kibrot-Taäwa genoem, omdat hulle die gulsige mense daar begrawe het. Van Kibrot-Taäwa af het die volk na Gaserot toe weggetrek en daar gebly.

NUMERI 11:4-35 Die Boodskap (DB)

Sommige van die mense van ander volke wat saam met die Israeliete getrek het, het so lus gekry vir vleis dat hulle net wou terugdraai Egipte toe. Dit het gemaak dat baie van die Israeliete self ook begin kla het. “As ons tog maar net ’n stukkie vleis gehad het om te eet,” het hulle gekerm. “Om nie eers te praat van die vis wat ons in Egipte verniet gekry het nie! En wat van die komkommers en waatlemoene, ja, selfs preie, uie en knoffel, net soveel as wat ons wou hê. Hier krepeer ons van die ellende en al wat ons het om te eet is manna, dagin en daguit!” Die manna was so groot soos koljandersaad met ’n geel kleur. Die manna het elke nag saam met dou om die kamp geval. Die volgende oggend het die mense dit oral gaan optel en dit op uitgeholde klippe met ’n ander klip fyngemaal, of in ’n bakkie met ’n ronde voorwerp fyngedruk. Hierdie fyngemaakte manna kon dan gekook word, of soos koek in panne gebak word. Die mannakoeke het net soos oliekoeke gesmaak. Moses het gehoor hoe die mense in groepies by hulle tente rondstaan en onder mekaar kla. Die Here was woedend hieroor. Moses self was ook baie ontsteld en het vir die Here gesê: “Waarom behandel U my so sleg? Wat het ek gedoen om so ’n las soos hierdie volk te verdien? Is hulle miskien my kinders wat ek in die wêreld gebring het? Moet ek nou soos ’n babaoppasser met hulle in my arms rondloop tot in die Beloofde Land? Hulle loop die hele dag lank en kerm oor vleis. Waar moet ek vir al hierdie mense vleis vandaan kry? Ek sien regtig nie kans om vir hierdie hele volk verantwoordelikheid te neem nie. Dit is net te veel gevra van een mens. As dit is hoe U my gaan behandel, doen my eerder ’n guns en laat my doodgaan. Ek kan nie so aangaan nie.” Toe sê die Here vir Moses: “Soek 70 mense onder die leiers van Israel uit. Maak seker dat die mense hulle gesag sal aanvaar. Bring hulle dan saam met jou na die tent toe waar Ek aanbid word. Ek sal daar met julle kom praat en van die bekwaamheid wat Ek jou gegee het, op hulle skouers sit sodat hulle saam met jou verantwoordelikheid kan neem vir die volk. Dan hoef jy dit nie meer alleen te doen nie. Sê vir die volk: Was julle skoon, want môre sal julle vleis hê om te eet. Die Here het julle gekerm oor die vleis gehoor en dat julle sê Egipte was so verskriklik goed. Nou gaan die Here vir julle vleis gee om te eet, en julle sal moet eet! Moenie dink dit sal net vir ’n dag of twee of dalk vyf of tien, ja, selfs net twintig dae wees nie. Nee, julle sal ’n hele maand lank vleis eet totdat julle naar word daarvan en julle later nie meer ’n stukkie vleis in die oog sal kan kyk nie. Dit het julle nou daarvan met al julle gekla en verwyte dat julle nooit uit Egipte uit moes getrek het nie, toe julle die Here verwerp het.” Moses sê toe vir die Here: “Die manne alleen is omtrent 600 000 mense en U belowe om vir almal genoeg vleis te gee vir ’n hele maand! Selfs al slag ons al ons beeste en al ons skape, sal dit nooit genoeg wees nie. Ons kan al die visse in die see vang en dit sal nog steeds nie genoeg wees nie.” Toe vra die Here vir Moses: “Dink jy Ek het nie die mag om dit te doen nie? Jy sal nou met jou eie oë sien of my woorde waar word of nie.” Moses het toe vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het die 70 leiers uitgesoek en hulle in ’n sirkel om die tent laat staan. Die Here het toe in die wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het dieselfde Gees wat Hy vir Moses gegee het om in sy Naam op te tree, ook vir die 70 leiers gegee. Toe dit gebeur, het hulle God se wil begin bekendmaak. Dit het egter net hierdie een keer gebeur. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!” “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!” Hierna is Moses met die 70 leiers terug kamp toe. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word. Hulle was nog besig om van die vleis te eet, en daar was nog baie oor, toe die Here verskriklik kwaad vir hulle geword het. Hy het ’n siekte-epidemie onder hulle laat losbars wat baie mense doodgemaak het. Daarom het hulle die plek Kibrot-Taäwa, of begraafplaas van vleislus, genoem, want hulle het baie mense daar begrawe wat aan die epidemie dood is nadat hulle gulsig was oor vleis. Van daar af het die volk na Gaserot toe getrek waar hulle ’n ruk lank gebly het.

NUMERI 11:4-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry? Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel. Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!” Die manna was soos koljandersaad. Dit het ’n vaal kleur gehad. Die volk het uitgegaan en dit van die grond af opgetel. Hulle het dit dan tussen klippe gemaal of in ’n vysel stukkend gestamp. Daarna het hulle dit in ’n pot gekook en dan daarvan plaatkoeke gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak. Die manna het saam met die dou gedurende die nag geval. Moses het gehoor hoe die stamme van die volk by hulle tente se openinge staan en mor. Die HERE het baie kwaad geword. Dit was vir Moses ’n baie verkeerde ding. Moses vra toe vir die HERE: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal? Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’ Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’ “Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my. As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.” HERE Die HERE sê toe vir Moses: “Maak uit die ouer mans van Israel vir My 70 mans bymekaar van wie jy weet dat hulle die oudstes en die leiers is. Vat hulle saam na die tabernakel toe en wag daar saam met hulle. Ek sal afkom en met jou kom praat. Ek sal my Gees wat in jou woon ook in hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk. Jy sal dit nie meer alleen hoef te dra nie. “Sê vir die volk: Heilig julleself vir môre. Julle sal dan vleis kry om te eet. Die HERE het gehoor hoe julle kerm: Waar sal ons vleis kry om te eet? Ons was beter af in Egipte! Die HERE sal dan vir julle vleis gee om te eet. Julle sal nie net vir een dag vleis hê om te eet nie, ook nie net vir twee of vir vyf of vir tien of vir selfs twintig dae nie. Julle sal elke dag vir ’n hele maand lank vleis eet totdat dit by julle ore uitkom en julle daarvan begin naar word. Julle het die HERE, wat tussen julle woon, verwerp, want julle het by Hom gekla: ‘Waarom moes ons uit Egipte weggaan?’” Moses het die HERE geantwoord: “Hier onder ons is daar 600 000 mans wat kan veg. En dan sê U nog: ‘Ek sal vir hulle vir ’n maand lank vleis gee om te eet.’ Sou dit genoeg wees as ons al die skape en die beeste vir hulle slag? Sou dit genoeg wees as ons al die visse van die see vir hulle bymekaarmaak?” Die HERE het vir Moses gesê: “Dink jy die HERE kan nie? Jy sal nou sien of Ek kan doen wat Ek sê of nie.” Moses is toe uit na die volk toe om vir hulle te sê wat die HERE gesê het. Hy het 70 leiers bymekaargemaak en hulle reg rondom die tabernakel laat staan. Die HERE het in ’n wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het sy Gees wat in Moses was ook oor die 70 mans laat kom. Toe die Gees oor hulle gekom het, het hulle begin profeteer. Dit het net hierdie een keer met hulle gebeur. Twee mans, Eldad en Medad, was deel van die 70 mans. Hulle het in die kamp agtergebly. Hulle het nie saamgegaan na die tabernakel toe nie. Toe die Gees oor die mans gekom het, het hulle ook begin profeteer daar waar hulle in die kamp was. ’n Jong seun het gehardloop en vir Moses kom sê: “Eldad en Medad is besig om in die kamp te profeteer!” Josua, die seun van Nun, was van jongs af Moses se assistent. Hy het vir Moses gesê: “Meneer moet hulle stop!” Moses het hom geantwoord: “Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die HERE tog maar van die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!” Moses en die leiers is toe weer terug na die kamp toe. Die HERE het toe ’n wind laat waai. Dit het kwartels van die see af oor die kamp gewaai. Hulle het reg rondom die kamp geval, omtrent ’n dagreis ver in alle rigtings en omtrent ’n meter diep. Die volk het uitgegaan en daardie hele dag en nag en ook nog die volgende dag kwartels bymekaargemaak. Die minste wat enigeen bymekaargemaak het, was 50 houers. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei. Nog voor hulle die vleis klaar geëet het, het die HERE se woede teen die volk losgebars. Die HERE het ’n baie groot siekte onder hulle laat uitbreek. Daardie plek se naam het “Kibrot-Taäwa” geword. Daar is die mense begrawe wat so lus vir vleis geword het. Van daar af is die volk na Gaserot toe. Hulle het ’n tyd lank daar gebly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid