Markus 9:14-29

Markus 9:14-29 AFR20

Toe hulle by die dissipels kom, sien hulle 'n groot skare rondom hulle, en skrifkenners wat met hulle redeneer. Die hele skare was dadelik verras toe hulle Jesus sien, en het nader gehardloop en Hom gegroet. Hy het hulle gevra: “Waaroor redeneer julle met hulle?” Een uit die skare het Hom geantwoord: “Meester, ek het my seun na U gebring; hy het 'n gees in hom wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom neer. Die seun kry dan skuim om sy mond, kners op sy tande en kry stuiptrekkings. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Hy hulle: “O, ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” Hulle het die seun na Hom gebring. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun dadelik stuiptrekkings kry. Hy het op die grond geval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus het die vader gevra: “Hoe lank gebeur dit al met hom?” Hy het geantwoord: “Van kleins af. Baie keer het die gees hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” Jesus vra hom toe: “ ‘As U kan?’ Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo. ” Onmiddellik roep die vader van die kind uit: “Ek glo! Kom my ongeloof te hulp! ” Toe Jesus sien dat 'n skare saamdrom, het Hy die •onrein gees bestraf en vir hom gesê: “Stom en dowe gees, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom inkom nie!” Die gees het toe geskreeu en die seun baie stuiptrekkings laat kry en uit hom uitgegaan. Die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie mense gesê het: “Hy het gesterf.” Jesus het egter sy hand gevat, hom regop gehelp, en hy het opgestaan. Nadat Jesus 'n huis binnegegaan het, en hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons dan die gees nie uitdryf nie?” Hy het vir hulle gesê: “Hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedryf word nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid