MARKUS 9:14-29

MARKUS 9:14-29 NLV

Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer. Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet. Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?” Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.” Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?” “Van kleins af,” was sy antwoord. “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!” “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!” “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!” Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.” Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!” Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan. Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?” Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid