Markus 5:21-43

Markus 5:21-43 AFR20

Nadat Jesus weer met die boot na die oorkant gevaar het, het 'n groot skare om Hom saamgedrom waar Hy langs die see was. Een van die leiers van die •sinagoge, met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” Jesus het saam met hom vertrek. 'n Groot skare het Hom gevolg en teen Hom gedruk. Daar was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is. Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit Hom uitgegaan het. Hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bokleed geraak?” Maar sy dissipels het vir Hom gesê: “U sien dat die skare van alle kante af teen U druk, en tog vra U, ‘Wie het aan My geraak?’ ” Hy het om Hom bly rondkyk om die een te sien wat dit gedoen het. Toe die vrou besef wat met haar gebeur het, het sy bewend van vrees voor Hom kom neerval en Hom die volle waarheid vertel. Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.” Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter het gesterf. Waarom val u die leermeester nog lastig?” Jesus het egter in die verbygaan gehoor toe die berig oorgedra word, en sê toe vir die leier van die sinagoge: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” En Hy het niemand toegelaat om met Hom saam te gaan nie, behalwe •Petrus, Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. Toe hulle by die leier van die sinagoge se huis kom, sien Hy 'n geroesemoes, en mense wat huil en erg weeklaag. Hy gaan toe in en vra vir hulle: “Waarom gaan julle so tekere en huil julle? Die kindjie het nie gesterf nie, maar slaap net. ” Hulle het Hom egter uitgelag. Maar nadat Hy almal uitgejaag het, het Hy die vader van die kindjie, haar moeder en dié wat by Hom was, saamgeneem en ingegaan na waar die kindjie was. Hy neem toe die kindjie se hand en sê vir haar, “Talita koem!” wat, as dit vertaal word, beteken ‘Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!’ Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop. Sy was twaalf jaar oud. Hulle was stom van verbasing. Hy het hulle streng opdrag gegee dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat hulle vir haar iets te ete moes gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid