Matteus 23

23
Waarskuwing teen die skrifkenners en Fariseërs
(Mark 12:37-39; Luk 20:45-46)
1Toe het Jesus vir die skare en vir sy dissipels gesê: 2“Die skrifkenners en •Fariseërs sit op die stoel van Moses. 3 Doen en onderhou dan alles wat hulle vir julle sê. Maar moenie doen wat hulle doen nie, want hulle praat net en doen nie. 4Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om met 'n vinger aan die vrag te raak nie. 5Al hulle dade is bedoel om deur die mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels langer. 6Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die •sinagoges, 7om op die markpleine begroet en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word. 8Maar julle, julle moet julle nie as ‘rabbi’ laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. 9En moet niemand op aarde as julle ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is. 10Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die •Christus. 11 Die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees. 12 Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word.”
Jesus se sewe oordele
(Luk 11:39-52)
13 “Wee julle, skrifkenners en •Fariseërs, skynheiliges! Want julle sluit die mense uit die •koninkryk van die hemele uit. Self gaan julle nie in nie, en boonop laat julle die mense wat probeer ingaan, nie toe om in te gaan nie.
15“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle deurkruis land en see om 'n enkele proseliet te werf, en wanneer dit gebeur, maak julle hom 'n kind van Gehenna, dubbel so erg as julleself.
16“Wee julle, blinde leiers! Julle sê, ‘Wie by die heiligdom van die •tempel sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die goud van die heiligdom, is gebonde.’ 17Dwase en blindes! Wat is belangriker, die goud of die heiligdom wat die goud heilig? 18Verder sê julle, ‘Wie by die altaar sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die offergawe daarop, is gebonde.’ 19Blindes! Wat is belangriker, die offergawe of die altaar wat die offergawe heilig? 20Wie dan sweer by die altaar, sweer daarby en by alles daarop. 21 Wie sweer by die heiligdom, sweer daarby en by Hom wat dit bewoon. 22 En wie by die hemel sweer, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.
23“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. 24Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in.
25“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. 26Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees.
27“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. 28 So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid.
29“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. 30En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ 31Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. 32Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. 33Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug? 34 Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle •sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg. 35So sal alle regverdige bloed wat op aarde vergiet is, vir julle toegereken word, van die bloed van Abel, die regverdige, tot by die bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle tussen die heiligdom en die altaar vermoor het. 36•Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag neerkom.”
Jesus se klag oor Jerusalem
(Luk 13:34-35)
37“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. 38 Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. 39Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê,
‘Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here.’ ”

Tans Gekies:

Matteus 23: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid