Matteus 22

22
Gelykenis van die bruilofsfees
(Luk 14:16-24)
1Jesus het weer met hulle deur gelykenisse gepraat en gesê: 2“Die •koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n •bruilofsfees vir sy seun voorberei het. 3Hy het toe sy slawe gestuur om dié wat na die bruilofsfees genooi is, te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Nog 'n keer het hy ander slawe gestuur, met die opdrag, ‘Sê vir die genooides: Kyk, ek het my feesmaal gereedgemaak. My beeste en die vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed – kom na die bruilofsfees!’ 5Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en weggegaan, die een na sy stuk grond, die ander na sy besigheid. 6 Die res van hulle het sy slawe gegryp, hulle sleg behandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword; hy het sy soldate gestuur, daardie moordenaars om die lewe gebring en hulle stad afgebrand. 8Toe sê hy vir sy slawe, ‘Die bruilofsfees is gereed, maar die genooides was dit nie waardig nie. 9Gaan dan uit na die kruispaaie en nooi soveel mense na die bruilofsfees as wat julle kan vind.’ 10Toe het daardie slawe uitgegaan na die paaie en almal bymekaargemaak wat hulle teëgekom het, slegtes sowel as goeies. En die bruilofsaal het vol gaste geword. 11Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar 'n man sonder 'n bruilofskleed aan. 12En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. 13Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. 14Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.”
Vraag oor belasting
(Mark 12:13-17; Luk 20:20-26)
15Toe het die •Fariseërs gegaan en 'n plan beraam om Hom in 'n strik te laat beland oor wat Hy sê. 16Hulle stuur toe hulle dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: “Meester, ons weet dat u opreg is en God se weg waarheidsgetrou leer en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie. 17Sê dan vir ons wat is u opinie: Is dit toelaatbaar om aan die keiser belasting te betaal of nie?” 18Omdat Jesus egter hulle bose bedoeling geken het, het Hy gesê: “Waarom toets julle My, julle skynheiliges? 19Wys vir My die munt waarmee julle belasting betaal.” Hulle het vir Hom 'n denarius gebring. 20Hy vra hulle toe: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” 21En hulle sê vir Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Hy vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” 22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas. Hulle het Hom daar agtergelaat en weggegaan.
Vraag oor die opstanding
(Mark 12:18-27; Luk 20:27-39)
23Daardie selfde dag kom die •Sadduseërs, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, na Hom en vra: 24“Meester, Moses het gesê, ‘As iemand sonder kinders sterf, moet sy broer met die vrou trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ 25By ons was daar sewe broers. Die eerste het getrou en gesterf, en sy vrou vir sy broer agtergelaat, omdat hy nie self 'n nageslag gehad het nie. 26Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer tot by die sewende een. 27Laaste van almal het die vrou gesterf. 28By die opstanding, wie van die sewe se vrou sal sy dan wees? Almal het haar immers as vrou gehad.” 29Jesus het hulle egter geantwoord: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie. 30By die opstanding tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel. 31En wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God aan julle gesê het nie, 32 ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’? Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.” 33 Toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy lering.
Vraag oor die belangrikste gebod
(Mark 12:28-31; Luk 10:25-28)
34Toe die •Fariseërs hoor dat Hy die •Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. 35Een van hulle, 'n wetskenner, het vervolgens 'n vraag gestel om Hom te toets: 36“Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” 37Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ 38Dit is die belangrikste en die eerste gebod. 39En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40 Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete. ”
Vraag oor die Seun van Dawid
(Mark 12:35-37; Luk 20:41-44)
41Toe die •Fariseërs bymekaar was, het Jesus hulle gevra: 42 “Wat sê julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s'n.” 43Hy vra hulle toe: “Hoe kan Dawid Hom dan, deur die werking van die Gees, ‘Here’ noem, as hy sê,
44 “ ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand,
totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het’?
45“As Dawid Hom dan ‘Here’ noem, hoe kan Hy sy Seun wees?” 46Niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; en van daardie dag af het niemand ooit weer gewaag om Hom te ondervra nie.

Tans Gekies:

Matteus 22: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid