Lukas 15:11-30

Lukas 15:11-30 AFR20

Verder het Hy gesê: “'n Man het twee seuns gehad. Die jongste een van hulle het vir sy vader gesê, ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Hy het toe die besittings tussen hulle verdeel. Nie lank daarna nie het die jongste seun al sy goed in geld omgesit en na 'n ver land gereis, en daar alles wat hy besit het, deur sy losbandige leefwyse verkwis. Teen die tyd dat hy alles uitgegee het, het daar 'n baie ernstige hongersnood in daardie land uitgebreek, en hy het begin gebrek ly. Hy gaan werk toe by een van daardie land se inwoners, wat hom na sy boerdery gestuur het om sy varke op te pas. Hy het gewens dat hy sy honger kon stil met die peule wat die varke gewoonlik gevreet het, maar niemand het vir hom daarvan gegee nie. “Toe het hy egter tot sy sinne gekom en gesê, ‘Hoeveel dagloners van my pa het oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger! Ek sal opstaan en na my pa gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie langer werd om u seun genoem te word nie. Behandel my soos een van u dagloners.’ Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ Maar sy vader het sy slawe opdrag gegee, ‘Bring gou 'n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom 'n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. Bring vir ons die vetgemaakte kalf, slag dit en laat ons eet en feesvier, want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword, hy was verlore en is weer gevind.’ Toe het hulle begin feesvier. “Die oudste seun was in die veld, en toe hy terugkeer en naby die huis kom, hoor hy musiek en 'n gedans. Hy roep toe een van die dienaars en verneem by hom wat aan die gang is. ‘Jou broer het teruggekom,’ het hy hom geantwoord, ‘en jou pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’ Hy het briesend kwaad geword en wou nie ingaan nie, maar sy vader het uitgekom en mooi met hom gepraat. Maar hy het vir sy vader gesê, ‘Kyk, ek sloof my al soveel jare vir u af, en het nog nooit 'n opdrag van u verontagsaam nie, en vir my het u nooit eers 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende kon feesvier nie. Maar toe hierdie seun van u terugkom, wat u besittings op prostitute uitgemors het, slag u vir hom die vetgemaakte kalf!’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid