Lukas 10:25-37

Lukas 10:25-37 AFR20

En kyk, 'n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. ” “Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?” Hierop het Jesus geantwoord: “'n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 'n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. En net so het ook 'n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan. Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na 'n herberg en versorg hom daar. Die volgende oggend haal hy twee denarius uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee, sal ek jou betaal wanneer ek terugkom.’ Wie van hierdie drie, dink jy, was 'n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid