LUKAS 10:25-37

LUKAS 10:25-37 Bybel vir almal (ABA)

Daar het 'n skrifgeleerde na Jesus toe gekom. Hy wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee en hy het vir Hom gevra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry?” Jesus het vir hom gevra: “Wat het God in sy wette geskryf? Wat lees jy in die wette?” Die skrifgeleerde antwoord toe: “ Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart, met jou hele lewe, met al jou krag, en met jou hele verstand. Jy moet ook vir jou naaste lief wees soos jy lief is vir jouself.” Toe sê Jesus vir hom: “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, en jy sal die ewige lewe kry.” Maar die skrifgeleerde wou wys dat hy slimmer is as Jesus. Daarom vra hy toe vir Jesus: “Maar wie is my naaste?” Jesus het vir hom gesê: “'n Man het van Jerusalem na Jerigo geloop. Op daardie pad het manne hom aangeval. Hulle het sy klere uitgetrek en hom geslaan en sy goed gesteel. Toe hardloop hulle weg en los hom daar. Hy was amper dood. Daar het toe 'n priester op dieselfde pad geloop. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad. 'n Leviet het ook daar verbygeloop en hy het dieselfde gedoen. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad. 'n Samaritaan het daar aangekom op dieselfde pad. Toe hy by die man kom en hom sien, was hy baie jammer vir hom. Hy het nader gegaan, hy het die man se seerplekke toegedraai, en olyf-olie en wyn daarop gegooi. Die Samaritaan het sy donkie nader gebring. Hy het die man op die donkie laat ry en hy het hom na 'n herberg geneem. Daar het hy goed vir hom gesorg. Die volgende dag het hy twee silwer geldstukke uitgehaal, en hy het dit vir die eienaar van die herberg gegee. Hy het vir hom gesê: ‘Jy moet goed sorg vir die man, en as hierdie geld nie genoeg is nie, dan sal ek vir jou nog gee wanneer ek weer hier verbykom.’ ” Jesus vra toe vir die skrifgeleerde: “Wat dink jy? Wie van hierdie drie mense het 'n naaste geword van die man vir wie daardie manne aangeval het?” Die skrifgeleerde het gesê: “Daardie man wat jammer was vir hom en wat hom gehelp het.” Toe sê Jesus vir die skrifgeleerde: “Gaan, en doen wat die Samaritaan gedoen het.”

LUKAS 10:25-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar het 'n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe. Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste? En Jesus antwoord en sê: 'n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. En bygeval het 'n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook 'n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Maar 'n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na 'n herberg geneem en vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom. Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het? En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.

LUKAS 10:25-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?” Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.” Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?” Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na 'n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’ “Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

LUKAS 10:25-37 Die Boodskap (DB)

’n Kenner van die wet van Moses wat na Jesus gesit en luister het, besluit toe om Hom ’n strikvraag te vra. Hy wou Jesus daar voor almal verneder. Hy staan toe op en vra ewe vroom: “Leermeester, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se nuwe wêreld kan gaan bly?” “Ken jy dan nie die wet nie?” het Jesus vinnig teruggevra. “Sê My ’n bietjie, wat staan daar in die wet geskryf?” Die wetskenner antwoord toe: “Die wet sê jy moet die Here jou God liefhê met alles in jou: met jou wil, jou emosies, jou krag en jou denke. En jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” “Mooi so!” het Jesus gesê. “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, dan sal daar vir jou ’n plek wees in God se nuwe wêreld. So eenvoudig is dit!” Maar die kenner van die wet was nog lank nie klaar nie. Hy het sy strikvraag vir laaste gebêre: “Wag eers. Sê my, wie is my medemens van wie die wet praat?” Jesus antwoord toe met ’n verhaal: “Weet jy, eendag was daar ’n man wat van Jerusalem na Jerigo toe gestap het. Langs die pad het ’n klomp rowers hom ingewag en hom behoorlik toegetakel. Hulle het hom ernstig aangerand, al sy geld en klere gevat en hom daar vir dood laat lê. “Toevallig stap ’n priester ’n rukkie later daar verby. Maar toe hy die halfdooie man daar sien lê, het hy aan die ander kant van die pad verbygestap en gemaak of hy hom glad nie sien nie. “Die priester was skaars weg of daar stap ’n Leviet verby, iemand wat in die tempel diens gedoen het. Maar hy het ook gemaak of hy nie die gewonde man raaksien nie en het verder gestap. “Toe kom daar ’n Samaritaan verby. En, soos jy weet, is die Samaritane en die Israeliete nie vriende nie. Maar hierdie Samaritaan het gaan stilstaan om te kyk wat die beseerde man makeer. Toe hy sien hoe die arme man lyk, het hy hom baie jammer gekry. Hy het dadelik die medisyne uitgehaal wat hy by hom in sy tas gehad het en die man se wonde skoongemaak. Hy het hom toe verbind en versigtig op sy donkie getel. Die Samaritaan is toe na die naaste herberg toe. Daar het hy die man in die bed gaan sit en hom versorg. “Die volgende oggend moes die Samaritaan verder reis. Hy sê toe vir die eienaar van die herberg: ‘Hier is geld om vir daardie siek man se verblyf te betaal. Sorg asseblief goed vir hom. As die geld te min is, sal ek later die res kom betaal. Ek kom binnekort weer hier oorslaap wanneer ek van my reis af terugkeer.’ “Sê My, wie van hierdie drie mans was ’n medemens vir daardie arme man wat onder die rowers deurgeloop het? Wat dink jy?” het Jesus toe vir die kenner van die wet gevra. Hy antwoord toe: “Ja, wel, seker daardie een wat goedgedoen het aan die man wat aangerand is.” “Mooi so! Gaan doen jy nou presies dieselfde as hy. Word ’n medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het, maak nie saak wie of wat hulle is nie,” het Jesus geantwoord.

LUKAS 10:25-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Eendag het ’n wetskenner na vore gekom om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” Jesus het geantwoord: “Wat sê die wet van Moses? Wat lees jy daarin?” Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’ En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’” “Reg!” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit en jy sal lewe!” Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?” En Jesus antwoord: “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is. Hulle het sy klere uitgetrek, hom aangerand en halfdood langs die pad laat lê. En toe is hulle vort. “Toevallig kom daar ’n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy aan die ander kant by hom verbygegaan. “So het ook ’n Leviet daar aangekom, die man een kyk gegee en ook aan die ander kant verbygegaan. “Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg. Die volgende dag gee hy vir die herbergier twee silwermuntstukke en vra hom om die man te versorg. ‘As die rekening meer as dit is,’ het hy gesê, ‘sal ek die verskil betaal wanneer ek weer hierlangs kom.’ “Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra. Die man het geantwoord: “Die een wat aan hom medelye bewys het.” Toe het Jesus gesê: “Gaan nou, en doen jy dieselfde.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid