Johannes 6

6
Vermeerdering van brood
(Matt 14:13-21; Mark 6:30-44; Luk 9:10-17)
1Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea, oftewel Tiberias, vertrek. 2'n Groot skare het agter Hom aangekom, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy vir die siekes verrig het. 3 Jesus het toe teen die berg opgegaan en daar met sy dissipels gaan sit. 4 Dit was kort voor die Joodse fees van die Pasga.
5Toe Jesus opkyk en sien dat daar 'n groot skare na Hom op pad is, sê Hy vir Filippus: “Waar sal ons brood te koop kry om hierdie mense te laat eet?” 6Hy het dit egter net gesê om hom te toets – self het Hy immers reeds geweet wat Hy wou doen. 7Filippus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarius se brood is nie genoeg om vir elkeen 'n stukkie te laat kry nie.”
8Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon •Petrus, sê vir Hom: 9“Hier is 'n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense?” 10Jesus het gesê: “Laat die mense sit.” Daar was baie gras op die plek. Toe het die mans gaan sit – hulle was ongeveer vyfduisend in getal. 11Toe het Jesus die brode geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit laat uitdeel aan dié wat daar gesit het, en ook van die visse laat uitdeel, soveel as hulle wou hê. 12En toe almal versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die brokstukke bymekaar wat oorgebly het, sodat niks vermors word nie.” 13Hulle het dit toe bymekaargemaak, en twaalf mandjies volgemaak met die brokstukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat hulle klaar geëet het.
14Toe die mense die teken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is waarlik die Profeet wat na die wêreld sou kom. ” 15Toe Jesus besef dat hulle op die punt staan om Hom met geweld te kom gryp met die doel om Hom koning te maak, het Hy weer teen die berg opgegaan, net Hy alleen.
Jesus loop op die water
(Matt 14:22-27; Mark 6:45-52)
16Toe dit aand geword het, het sy dissipels na die see afgegaan; 17en nadat hulle in die boot geklim het, het hulle na Kapernaum aan die oorkant van die see gevaar. Dit was reeds donker, maar Jesus het nog steeds nie by hulle uitgekom nie. 18En die see het onstuimig geword, omdat 'n sterk wind gewaai het. 19Toe hulle sowat vyf-en-twintig tot dertig stadion ver geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en tot naby die boot kom, en hulle het bang geword. 20Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” 21Toe wou hulle Hom in die boot saamneem, maar skielik was die boot aan land by die plek waarheen hulle besig was om te vaar.
Jesus die brood van die lewe
22Die volgende dag het die skare wat oorkant die see bly staan het, agtergekom dat daar, behalwe dié een, geen ander skuit was nie, en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. 23Daar het egter vanaf Tiberias bote aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het nadat die Here die seëngebed uitgespreek het. 24Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie, en ook nie sy dissipels nie, het hulle self in die skuite geklim en na Kapernaum gevaar op soek na Jesus. 25Toe hulle Hom aan die oorkant van die see aantref, het hulle vir Hom gevra: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?” 26Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle soek My, nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die •Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” 28Hulle het Hom gevra: “Wat moet ons doen sodat ons die werke kan verrig wat God wil hê?” 29En Jesus het hulle geantwoord: “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.” 30Hulle sê toe vir Hom: “Watter teken sal u doen sodat ons kan sien en u glo? Wat gaan u doen? 31Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos daar geskryf staan, ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’ ” 32Jesus sê toe vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie – nee, my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. 33Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee.”
34 Hulle sê toe vir Hom: “Here, gee ons altyd hierdie brood. ” 35Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie. 36Maar Ek het vir julle gesê, ‘Julle het My gesien, en tog glo julle nie.’ 37Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie; 38want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil uit te voer nie maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie 'n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek. 40Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan. ”
41Toe het die Jode oor Hom gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.” 42En hulle het gesê: “Is hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe kan hy nou sê, ‘Ek het uit die hemel neergedaal?’ ” 43Jesus het hulle geantwoord: “Hou op om onder mekaar te mor. 44Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. 45In die Profete staan daar geskryf, ‘En hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46 Nie dat iemand die Vader gesien het nie – net die Een wat van God af kom, Hy het die Vader gesien. 47Amen, amen, Ek sê vir julle: Hy wat glo, het die ewige lewe. 48 Ek is die brood van die lewe. 49 Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf. 50Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.”
52Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” 53Daarop sê Jesus vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. 55Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. 58Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.”
59Dit het Hy in 'n •sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het.
Twyfel onder Jesus se dissipels
60Baie van sy dissipels het, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” 61Maar Jesus, innerlik bewus daarvan dat sy dissipels hieroor mor, het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? 62 Wat dan as julle die •Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. 64Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. 65 Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.”
66Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie. 67Daarop het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” 68Simon •Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. 69En ons glo en weet dat U die •Heilige van God is. ” 70Jesus het hulle geantwoord: “Het Ek nie julle twaalf uitgekies nie? En tog is een van julle die Duiwel!” 71 Hy het Judas, die seun van Simon Iskariot, bedoel, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was.

Tans Gekies:

Johannes 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid