Johannes 5

5
Genesing by die bad van Betsata
1Hierna was daar 'n Joodse fees, en Jesus het na Jerusalem opgegaan. 2By die Skaappoort in Jerusalem is daar 'n bad, in Hebreeus Betsata genoem, met vyf pilaargange. 3In die pilaargange het 'n groot aantal siekes gelê: blindes, kreupeles, verlamdes. 5Daar was 'n man wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het. 6Toe Jesus hom daar sien lê, bewus daarvan dat hy reeds lank siek is, vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?” 7Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog besig is om nader te gaan, gaan iemand anders voor my in.” 8 Jesus sê vir hom: “Staan op, tel jou slaapmat op en loop.” 9En dadelik het die man gesond geword, sy slaapmat opgetel en begin loop.
Daardie dag was egter 'n Sabbat. 10Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is Sabbat – dit is nie vir jou toelaatbaar om jou slaapmat te dra nie.” 11Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê, ‘Tel jou slaapmat op en loop.’ ” 12Hulle het hom gevra: “Wie is die man wat vir jou gesê het, ‘Tel jou slaapmat op en loop’?” 13Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggeglip, aangesien daar op die plek 'n skare byeen was. 14Hierna kry Jesus hom op die tempelterrein en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond; moenie langer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” 15 Die man het weggegaan en die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. 16Hieroor wou die Jode Hom vervolg, omdat Hy dit op 'n Sabbat gedoen het. 17Maar Jesus het hulle geantwoord: “My Vader is tot nou toe aan die werk, en Ek is ook aan die werk.” 18Om hierdie rede het die Jode nog harder probeer om Hom dood te maak – omdat Hy nie net die Sabbatsgebod verbreek het nie, maar boonop God sy eie Vader genoem en Hom so aan God gelykgestel het.
Volmag van die Seun
19Hierop het Jesus vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. 20Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom groter dade as dit wys, sodat julle verwonderd sal staan. 21Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. 22Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee, 23sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. 24Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan. 25 Amen, amen, Ek sê vir julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die •Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe. 26Want soos die Vader lewe in Homself het, so het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. 27Hy het aan Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die •Seun van die Mens is. 28Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom 'n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor 29 en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling.
30“Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is •regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. ”
Getuienis oor Jesus
31“ As Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie waar nie. 32Daar is 'n ander Een wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis waar is wat Hy oor My aflê. 33 Julle het gesante na Johannes gestuur, en hy het vir die waarheid getuig. 34Ek aanvaar egter nie die getuienis wat van 'n mens afkomstig is nie, maar Ek sê hierdie dinge sodat julle verlos kan word. 35Hy was die lamp wat brand en lig gee, en julle was gretig om julle vir 'n tydjie in sy lig te verbly. 36Maar Ek het 'n getuienis gewigtiger as dié van Johannes: Die werke wat die Vader My gegee het om te voltooi, ja, die werke wat Ek doen, getuig self van My dat die Vader My gestuur het. 37En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gestalte gesien nie. 38En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. 39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. 40Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.
41“ Ek aanvaar nie verering deur mense nie, 42maar Ek ken julle – julle het nie die liefde van God in julle nie. 43Ek het in die Naam van my Vader gekom, maar julle aanvaar My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. 44Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie? 45Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, die een op wie julle julle hoop gevestig het, wat julle aankla. 46 As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf. 47 Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”

Tans Gekies:

Johannes 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid