Rigters 8:24-35

Rigters 8:24-35 AFR20

Gideon het ook vir hulle gesê: “Ek wil aan julle 'n versoek rig: Gee elkeen vir my 'n ring uit sy buit.” Die Midianiete het goue ringe gehad, want hulle was Ismaeliete. “Ons gee dit graag!” sê hulle, en sprei 'n oorkleed oop. Elkeen het 'n ring uit sy buit daarop gegooi. Die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was eenduisend sewehonderd sikkel goud; dit was afgesien van die halfmaantjies, die oorbelle en die purperrooi kledingstukke wat die Midianitiese konings gedra het, en afgesien van die kettinkies wat aan hulle kamele se nekke was. Daarmee het Gideon 'n efod gemaak en dit in sy tuisdorp, in Ofra, opgestel. Die hele Israel is daar deur die efod tot afgodsdiens verlei; en dit het vir Gideon en sy huis 'n valstrik geword. So het die Midianiete die knie gebuig voor die Israeliete. Hulle kon nie weer hulle koppe oplig nie. Die land het veertig jaar lank rus gehad in Gideon se leeftyd. Jerubbaäl, seun van Joas, het in sy eie huis gaan woon. Gideon het sewentig seuns gehad wat hy verwek het, want hy het baie vroue gehad. Ook sy byvrou wat in Sigem was, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy het hom Abimeleg genoem. Gideon, seun van Joas, het op 'n hoë ouderdom gesterf. Hy is in die graf van Joas, sy vader, begrawe in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort. Maar net nadat Gideon dood is, het die Israeliete weer agter die Baäls aan gehoereer. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. Die Israeliete het nie meer gedink aan die HERE hulle God wat hulle gered het uit die hand van al hulle vyande rondom hulle nie. Hulle het ook nie trou bewys aan die huis van Jerubbaäl, dit is Gideon, vir al die goeie dinge wat hy aan Israel gedoen het nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Rigters 8:24-35

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid