RIGTERS 8:24-35

RIGTERS 8:24-35 Bybel vir almal (ABA)

Maar ek wil vir julle iets vra: Julle moet elkeen vir my 'n oor-ring gee van die goed wat julle van die vyande gevat het.” Die vyande was Ismaeliete en hulle het oor-ringe gedra. Die Israeliete het gesê: “Goed, ons sal gee wat jy vra.” Hulle het toe 'n bo-kleed oopgegooi en elkeen het daarop 'n oor-ring gegooi van die goed wat hulle van die vyand gevat het. Die goue oor-ringe wat Gideon gekry het, het 1 700 sikkels geweeg. Hy het ook die juwele en die mooi klere van die konings van Midian gekry, en die kettings wat om hulle kamele se nekke was. Gideon het die goud geneem en hy het 'n beeld daarvan laat maak, en hy het die beeld in sy stad Ofra neergesit. Al die Israeliete het ontrou geword aan die Here en die beeld begin aanbid. Gideon en sy familie het dit ook gedoen. Die Israeliete het gewen teen die Midianiete, en die Midianiete was nou nie meer so sterk dat hulle die Israeliete kon aanval nie. Daar was nog 40 jaar lank vrede in die land, totdat Gideon gesterf het. Gideon het in sy huis gaan woon. Hy was die pa van 70 seuns, want hy het baie vroue gehad. Hy het ook 'n seun gehad by sy byvrou in Sigem, en hy het die seun Abimelek genoem. Gideon was oud toe hy gesterf het. Hulle het hom begrawe in sy pa Joas se graf in Ofra waar die familie Abiëser gewoon het. Nadat Gideon gesterf het, het die Israeliete weer ontrou geword aan die Here en hulle het die Baäls gedien. Hulle het Baäl-Berit gekies om hulle god te wees. Ja, die Israeliete het nie hulle God die Here onthou nie, die God wat hulle gered het van hulle vyande wat rondom hulle gewoon het. Hulle het ook nie al die goeie dinge onthou wat Gideon vir hulle gedoen het nie, en hulle was nie goed vir sy familie nie.

RIGTERS 8:24-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Verder het Gídeon vir hulle gesê: Ek wil aan julle 'n versoek doen: Gee nou elkeen vir my die ring uit sy buit! Want hulle het goue ringe gedra, omdat hulle Ismaeliete was. Toe sê hulle: Ons wil dit graag gee; en hulle het 'n mantel uitgesprei en elkeen 'n ring van sy buit daarop gegooi. En die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was sewentienhonderd sikkels goud, behalwe die maantjies en die oorversiersels en purper klere wat die konings van Mídian gedra het, en behalwe die kettings wat aan die nekke van hulle kamele was. En Gídeon het daar 'n skouerkleed van gemaak en dit in sy stad, in Ofra, opgestel; en die hele Israel het dit daar agternagehoereer, en dit het vir Gídeon en sy huis 'n strik geword. So moes die Midianiete dan buig voor die kinders van Israel, en hulle het hul hoof nie meer opgetel nie; en die land het in Gídeon se dae veertig jaar lank gerus. En Jerúbbaäl, die seun van Joas, het in sy huis gaan woon. En Gídeon het sewentig seuns gehad wat uit sy lende voortgekom het, want hy het baie vroue gehad. En sy byvrou wat in Sigem was, het ook vir hom 'n seun gebaar, en hy het hom die naam Abiméleg gegee. En Gídeon, die seun van Joas, het gesterf in goeie ouderdom en is begrawe in die graf van sy vader Joas, in Ofra van die Abiësriete. Maar net toe Gídeon dood was, het die kinders van Israel weer die Baäls agternagehoereer en van Baäl-Berít vir hulle 'n god gemaak. En die kinders van Israel het nie gedink aan die HERE hulle God wat hulle uit die hand van al hul vyande rondom gered het nie. En hulle het geen guns bewys aan die huis van Jerúbbaäl, dit is Gídeon, vir al die goed wat hy aan Israel gedoen het nie.

RIGTERS 8:24-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Gideon het verder vir hulle gesê: “Ek wil julle egter een ding vra: elkeen van julle moet vir my 'n oorring gee uit die buit wat julle by die Midianiete afgevat het; hulle dra mos goue oorringe.” Die Israeliete het geantwoord: “Dit doen ons graag.” Hulle het 'n doek oopgegooi en elkeen het 'n oorring uit sy buit daarop gegooi. Die gewig van die goue oorringe wat Gideon gevra het, was negentien en 'n half kilogram. Die maanversierings, oorbelle en pers klere van die Midianitiese konings was nie daarby gereken nie en ook nie die kettinkies rondom die kamele se nekke nie. Gideon het 'n efodbeeld van die goud gemaak en dit in sy stad Ofra gesit. Die hele Israel het daarheen gekom en op dié wyse ontrou geword aan die Here. Die beeld was vir Gideon en sy mense 'n valstrik. Die Midianiete was onderdanig aan Israel. Hulle het nie weer in opstand gekom nie, en daar was veertig jaar lank vrede in die land in die dae van Gideon. Jerubbaäl seun van Joas het na die oorlog teen Midian in sy huis gaan woon. Hy het sewentig seuns gehad, almal sy eie kinders, want hy het baie vrouens gehad. Ook sy byvrou uit Sigem het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Sy naam was Abimelek. Gideon seun van Joas is op hoë ouderdom oorlede, en hy is in Ofra begrawe in die graf van sy pa Joas die Abiësriet. Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baäls begin vereer. Hulle het vir Baäl-Berit as god aanvaar en die Here hulle God vergeet deur wie hulle gered is uit die mag van hulle vyande rondom hulle. Hulle was ook nie lojaal teenoor die gesin van Jerubbaäl, dit is Gideon, nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.

RIGTERS 8:24-35 Die Boodskap (DB)

Maar ek het wel ’n ander versoek. Elkeen van julle moet vir my een van die goue oorringe gee wat ons by die Midianiete afgevat het.” Die Midianiete het graag goue oorringe gedra. “Dit sal ons vir jou doen,” het die volk gesê. Hulle het ’n doek op die grond oopgesprei en elkeen het ’n goue oorring daarop gegooi. Die goue oorringe wat Gideon bymekaargemaak het, het ongeveer twintig kilogram geweeg. Dit het nie eens die ornamente, oorbelle en pers koninklike klere ingesluit nie, en ook nie die kettings wat om die kamele se nekke was nie. Gideon het toe ’n afgodsbeeld van die goud gemaak en dit in sy tuisdorp, Ofra, gesit. Dit was nie lank nie of die Israeliete het hulle rug vir God gedraai en hierdie afgod begin aanbid. Hierdie beeld het Gideon en sy familie verlei om weg te dwaal van die Here af. Al die Midianiete is deur Israel verslaan. Hulle het nooit van hierdie neerlaag herstel nie. Hierna was daar tydens Gideon se leeftyd - so ongeveer 40 jaar lank - vrede in die land. Gideon seun van Joas is ná die oorlog terug huis toe. Hy het 70 seuns gehad, want hy het baie vroue gehad. Hy het ook ’n seun by sy byvrou in Sigem gehad. Sy naam was Abimelek. Gideon was al baie oud toe hy dood is. Hy is in sy pa, Joas die Abiësriet, se graf in Ofra begrawe. Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baäls begin dien. Hulle het Baäl-Berit hulle hoofgod gemaak. Hulle het heeltemal van die Here hulle God, wat hulle van hulle vyande verlos het, vergeet. Ten spyte van al die goeie dinge wat Jerubbaäl, dit is nou Gideon, vir Israel gedoen het, het hulle nie enige respek aan sy gesin bewys nie.

RIGTERS 8:24-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gideon het egter gesê: “Daar is tog een ding wat ek van julle wil vra: Laat elkeen van julle asseblief vir my ’n oorring gee uit die buit wat hy gemaak het.” Die vyand het goue oorringe gedra, want hulle was Ismaeliete. “Ons gee dit met graagte vir jou,” het hulle geantwoord. Hulle het ’n mantel oopgegooi. Elkeen het uit sy buit ’n oorring daarin gegooi. Die goue oorringe wat Gideon gekry het, het negentien en ’n half kilogram geweeg. Dit het nie die halfmaantjies, hangertjies, klere van die Midianitiese konings en die kettinkies rondom die kamele se nekke ingesluit nie. Van die goud het Gideon ’n efodbeeld gemaak. Hy het dit opgesit in sy tuisdorp Ofra. Die hele Israel het afvallig geword, want hulle het die beeld daar kom aanbid. Dit het vir Gideon en sy mense ’n valstrik geword. So is die Midianiete aan Israel onderwerp. Hulle het nooit weer herstel nie. In Gideon se tyd was daar vir 40 jaar lank vrede in die land. Jerubbaäl, die seun van Joas, het ná die oorlog teen Midian teruggegaan na sy huis toe. Hy het 70 seuns by sy baie vroue gehad. Sy byvrou in Sigem het ook vir hom ’n seun gegee. Sy naam was Abimelek. Gideon, die seun van Joas, het ’n hoë ouderdom behaal. Hy is dood en in Ofra in die graf van sy pa, Joas die Abiësriet, begrawe. Gideon was skaars dood of die Israeliete het weer na die Baäls toe teruggegaan. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. Hulle het die HERE hulle God, wat hulle uit die mag van al hulle vyande rondom hulle gered het, net so gelos. Hulle het nie lojaal gebly aan die gesin van Jerubbaäl – dit is nou Gideon – nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid