Jakobus 5

5
Waarskuwing aan rykes
1 Kom nou, julle rykes, huil en weeklaag oor die rampe wat julle gaan tref! 2 Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. 3Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer. Julle het in die laaste dae skatte opgegaar. 4Kyk, die loon wat julle weerhou het van die arbeiders wat julle lande geoes het, roep dit uit, en die geroep van diegene wat oes, het die ore van die Here, Heerser oor alle magte, bereik. 5Julle het op aarde weelderig en losbandig gelewe. Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag. 6Julle het die •regverdige veroordeel en vermoor; hy kan hom nie teen julle verweer nie.
Waarde van geduld
7Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laatreëns geval het. 8Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. 9Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.
10Neem as voorbeeld van lyding en geduld, broers, die profete wat in die Naam van die Here gepraat het. 11Kyk, ons beskou hulle wat volhard, as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.
Aflê van 'n eed
12 Bo alles, my broers, moenie sweer nie – nie by die hemel nie, en nie by die aarde nie – en moet ook geen ander eed aflê nie. Maar laat julle “ja” 'n “ja” wees, en julle “nee” 'n “nee”, sodat die oordeel julle nie tref nie.
Gelowige gebed
13As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. 14As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die •gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. 15Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. 16Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n •regverdige is baie kragtig in sy uitwerking. 17 Elia was 'n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. 18 Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.
19My broers, as enigeen van julle afdwaal van die waarheid, en iemand hom laat terugdraai, 20moet hy weet dat wie 'n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, sy siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.

Tans Gekies:

Jakobus 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid