1 Petrus 1

1
1•Petrus, 'n •apostel van Jesus •Christus,
aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, 2hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word:
Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word!
Oproep tot lof aan God
3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus •Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons 'n lewende hoop mag hê 4op 'n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – 5ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.
6Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir 'n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. 7Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – 'n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. 8Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.
10 Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. 11Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. 12Aan hulle is geopenbaar dat hulle, wat hierdie dinge betref, nie besig was om hulleself nie, maar júlle, te bedien. Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het, deur die Heilige Gees, wat van die hemel gestuur is. Selfs engele begeer om insig hierin te verkry.
Oproep tot heilige lewe
13Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word. 14As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. 15Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
17En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. 18 Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, 19 maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos 'n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. 20Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle 21wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.
22Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. 23Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God. 24Want:
Elke mens is soos gras,
en al sy prag soos 'n veldblom:
die gras verdroog
en die blom val af;
25maar die woord van die Here
bly tot in ewigheid –
en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is.

Tans Gekies:

1 Petrus 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid