Genesis 46:28-34

Genesis 46:28-34 AFR20

Juda het hy voor hom uit gestuur na Josef om vir hom die pad na Gosen te wys. Toe hulle in die Gosenstreek aankom, het Josef sy strydwa ingespan en opgetrek om sy vader Israel in Gosen te ontmoet. Toe hy by hom opdaag, val hy hom om die nek en huil lank op sy skouer. Israel sê toe vir Josef: “Ek kan nou maar sterf, noudat ek jou gesig gesien het, gesien het dat jy nog leef.” Josef het vir sy broers en sy familie gesê: “Ek wil optrek en die farao gaan inlig en vir hom sê, ‘My broers en my familie wat in die land Kanaän was, het na my toe gekom. Die manne is herders van kleinvee, ja, hulle was altyd veeboere. Hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het hulle saamgebring.’ As die farao julle ontbied en vra, ‘Wat is julle daaglikse werk?’ moet julle sê, ‘U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe – ons sowel as ons voorvaders’, sodat julle in die Gosenstreek kan woon, want alle herders van kleinvee is vir die Egiptenare afstootlik.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid