GENESIS 46:28-34
GENESIS 46:28-34 Bybel vir almal (ABA)
Jakob het vir Juda gestuur om voor hom na Josef toe te gaan om vir hom te sê dat hulle na die land Gosen kom. Hulle het in Gosen aangekom, en Josef het gesê sy slawe moet sy oorlogkar bring. Hy het daarop gery om sy pa Jakob te gaan ontmoet. Toe hy sy pa sien, het hy sy arms om hom gesit en hy het lank by sy pa gestaan en huil. Toe sê Jakob vir Josef: “Nou is ek tevrede, nou kan ek sterf. Ek het jou weer gesien, ek het gesien jy lewe nog.” Josef het vir sy broers en vir sy hele familie gesê: “Ek sal nou vir die farao vertel dat my broers en my familie van Kanaän gekom het en dat hulle hier aangekom het. Ek sal vir hom sê julle is veeboere, julle boer met beeste, skape en bokke, en julle het alles saamgebring wat julle het. Wanneer die farao julle roep en vir julle vra watter werk julle doen, dan moet julle sê: ‘Ons is nog altyd veeboere, vandat ons klein was. Ons oupas en pa's was ook veeboere.’ Julle moet sê julle is veeboere, dan sal die farao sê julle mag in Gosen woon. Die Egiptenaars hou niks van veeboere nie en hulle wil nie naby veeboere woon nie.”
GENESIS 46:28-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat dié voor hom uit die pad moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom. Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween. En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef! Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal optrek en aan Farao vertel en aan hom sê: My broers en die huis van my vader wat in die land Kanaän was, het na my gekom. En die manne is herders van kleinvee — want hulle was veeboere — en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring. En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering? dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders — sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars 'n gruwel.
GENESIS 46:28-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jakob het vir Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet dat hy op pad is na Gosen toe. Nadat Jakob-hulle in Gosen aangekom het, het Josef sy wa laat inspan om sy pa Israel in Gosen te gaan ontmoet. Toe Josef hom sien, het hy hom omhels en lank so gestaan en huil. Toe sê Israel vir Josef: “Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!” Josef het vir sy broers en vir sy hele familie gesê: “Ek wil vir die farao gaan sê my broers en my familie het uit Kanaän hier aangekom. Die manne is kleinveeboere, mense met vee, en hulle het hulle kleinvee en grootvee en alles wat hulle besit, saamgebring. As die farao julle nou laat roep en vir julle vra wat is julle nering, moet julle vir hom sê: ‘Van kleins af tot nou toe was ons veeboere, ons en ons voorvaders.’ Dan sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars het 'n afkeer van kleinveeboere.”
GENESIS 46:28-34 Die Boodskap (DB)
Toe hulle naby Gosen was, het Jakob Juda gestuur om vir Josef te sê hulle is op pad. Josef het dadelik sy wa ingespan en na sy pa toe gery. Josef was oorstelp van vreugde. Tussen die baie gesigte het hy sy pa s’n gesoek. Toe hy hom kry, het hy die ou man se lyf teen hom vasgedruk en hom gesoen. Josef het begin huil en lank met sy kop op Jakob se skouer gestaan. Vir Jakob was die ontmoeting amper te oorweldigend. Toe hy uiteindelik kon praat, het hy net gesê: “Nou kan ek maar sterf, want ek weet Josef leef - ek het hom gesien.” Josef het vir sy broers en sy hele familie gesê: “Ek gaan nou reguit na die farao toe om vir hom te vertel dat my familie uit Kanaän hier aangekom het. Ek wil vir hom sê my broers boer met kleinvee en hulle het al hulle vee en hulle besittings saamgebring. Wanneer die farao julle dan inroep en vra wat julle doen, moet julle vir hom sê: ‘Ons is veeboere. Van die vroegste tye af tot vandag toe was ons en ons voorouers veeboere.’ As die farao dit hoor, sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars hou niks van kleinveeboere nie.”
GENESIS 46:28-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jakob het Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet hy is op pad na Gosen toe. Nadat hulle daar aangekom het, het Josef sy wa laat inspan om sy pa in Gosen te gaan ontmoet. Toe hy by hom kom, het hy sy pa omhels en lank so op sy skouer gestaan en huil. Toe sê Jakob vir Josef: “Nou kan ek maar sterf, want ek het jou met my eie oë gesien en weet nou dat jy nog lewe.” Josef sê vir sy broers en sy hele familie: “Ek gaan om vir Farao te vertel dat julle almal uit die land Kanaän aangekom het om saam met my te wees. Ek sal ook vir hom sê: ‘Hierdie mense boer met klein- en grootvee. Hulle het al hulle diere saamgebring en ook alles wat hulle besit.’ Wanneer Farao dan met julle praat en navraag doen na julle beroep, moet julle vir hom sê: ‘Ons was ons lewe lank veeboere, soos ons voorouers.’ As julle dit vir hom sê, sal hy julle hier in Gosen laat woon, want kleinveeboere word in Egipte verafsku.”