Genesis 44:16-34

Genesis 44:16-34 AFR20

Juda sê toe: “Wat kan ons vir my heer sê? Wat kan ons aanvoer? Hoe kan ons onsself regverdig? Dit is God wat die sondeskuld van u dienaars aan die lig gebring het. Kyk, ons is nou my heer se slawe, ons en ook die een by wie die beker gevind is.” Maar hy antwoord: “Ek sal so iets nooit doen nie. Die man by wie die beker gevind is, net hy sal my slaaf word. En julle, trek in vrede op na julle vader!” Juda gaan toe nader aan hom en sê: “Asseblief, my heer, laat u dienaar tog persoonlik met my heer praat. Moet u nie vir u dienaar vererg nie; u is immers soos die farao. My heer het sy dienaars gevra, ‘Het julle nog 'n vader of 'n broer?’ En ons het my heer geantwoord, ‘Ons het 'n ou vader en 'n jong broer, 'n kind van sy ouderdom. Sy eie broer is oorlede, en hy is al wat van sy moeder oorgebly het. Sy vader is lief vir hom.’ U het toe vir u dienaars gesê, ‘Bring hom af na my, dat ek hom onder oë kan kry.’ Ons het my heer geantwoord, ‘Die jong man kan nie sy vader verlaat nie. As hy sy vader verlaat, sal sy vader sterf.’ U het toe vir u dienaars gesê, ‘As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle nie weer my gesig sien nie.’ Ons het daarna opgetrek na u dienaar, my vader, en hom die woorde van my heer meegedeel. Ons vader het gesê, ‘Gaan koop weer vir ons 'n bietjie kos!’ Maar ons het gesê, ‘Ons kan nie daarheen afgaan nie. As ons jongste broer by ons is, kan ons gaan, want ons sal nie die man se gesig kan sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’ En u dienaar, my vader, het vir ons gesê, ‘Julle weet self dat my vrou vir my net twee seuns in die wêreld gebring het. Die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: “Hy is sonder enige twyfel verskeur!” En ek het hom tot nou toe nie weer gesien nie. As julle nou hierdie een ook van my wegneem, en 'n noodlottige ramp tref hom, sal julle my grys hare deur teenspoed in die •doderyk laat afgaan.’ Daarom, as ek by u dienaar, my vader, aankom, en die jong man aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie – die oomblik dat hy sien die jong man is nie daar nie, sal hy sterf. U dienaars sal die grys hare van ons vader, u dienaar, met verdriet in die doderyk laat afgaan. Aangesien u dienaar borg gestaan het vir die jong man by my vader deur te sê, ‘As ek hom nie na u terugbring nie, sal ek altyd teenoor my vader skuldig staan,’ laat u dienaar asseblief dan nou in die plek van die jong man as slaaf van my heer agterbly. Maar die jong man, laat hy saam met sy broers optrek. Want hoe kan ek na my vader optrek, en die jong man is nie by my nie? Anders moet ek die ramp aanskou wat my vader tref.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid