GENESIS 44:16-34

GENESIS 44:16-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.” Toe sê Josef: “Dit laat ek nie toe nie. Dié een by wie die beker gekry is, sal my slaaf word, en julle kan ongehinderd na julle pa toe gaan.” Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self. Meneer het ons gevra of ons pa nog leef en of ons nog 'n broer het, en ons het vir Meneer gesê: ‘Ja, ons pa is oud. En op sy oudag het hy nog 'n jong seun wie se broer dood is. Die seun is die enigste wat van sy ma oorgebly het, en sy pa het hom lief.’ Maar u het gesê ons moet hom na u toe bring sodat u hom kan sien. Toe het ons vir Meneer gesê: ‘Die kind kan nie van sy pa af weggaan nie, en as hy sou weggaan, sou dit sy pa se dood beteken.’ Maar u het vir ons gesê u wil ons nie weer sien as ons jongste broer nie hierheen kom nie. En toe ons weer terug was by u onderdaan, ons pa, het ons hom vertel wat Meneer gesê het. Toe ons pa ons later weer vra om vir ons 'n bietjie kos te gaan koop, het ons vir hom gesê: ‘Ons kan nie gaan as ons jongste broer nie by ons is nie. Net as hy saamgaan, kan ons gaan, want as ons jongste broer nie by ons is nie, sal die man ons nie weer daar ontvang nie.’ Toe het u onderdaan, ons pa, vir ons gesê: ‘Julle weet my lieflingvrou het net twee seuns vir my in die wêreld gebring. Die een is van my af weg en ek moes aanvaar dat 'n roofdier hom opgevreet het, en ek het hom tot nou toe nog nie weer gesien nie. As julle nou ook nog hierdie jongste van my af wegvat en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom laat sterf van verdriet.’ Wanneer ons dus by ons pa terugkom en die seun aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie, ja, as hy moet sien die seun is nie daar nie, sal hy sterf. So sal ons ons pa wat 'n ou man is, van kommer laat sterf.” Juda het verder gesê: “Ek het vir my pa gewaarborg dat die seun sal terugkom. Ek het belowe ek sal vir altyd by my pa in die skuld wees as ek die seun nie terugbring nie. Hou my daarom dan nou hier as Meneer se slaaf in die plek van die seun, maar laat hý saam met sy broers teruggaan. Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so 'n smart hom tref nie.”

GENESIS 44:16-34 Bybel vir almal (ABA)

Juda het vir hom geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons praat en hoe kan ons bewys dat ons onskuldig is? God het gewys dat ons skuldig is. Hier is ons nou, ons is Meneer se slawe, ons en ook die een by wie die beker was.” Josef sê toe: “Ek sal dit nooit doen nie. Die man by wie die beker was, hý moet my slaaf word. Julle ander mag teruggaan na julle pa toe.” Juda het nader gekom na Josef toe en hy het vir hom gesê: “Asseblief, Meneer, mag ek alleen met Meneer praat? Moenie kwaad word vir my nie, want jy is soos die farao. Toe ons die eerste maal hier was, het Meneer vir ons gevra of ons 'n pa en nog 'n broer het. En ons het vir Meneer gesê ons het 'n pa wat al oud is en ons het nog 'n broer. Hy is die jongste. Hy is gebore toe ons pa al oud was en hy het 'n ander ma as ons. Haar ander seun is dood, en ons jongste broer het alleen oorgebly. Sy pa is baie lief vir hom. Meneer het toe vir ons gesê ons moet hom na Meneer toe bring, want Meneer wil hom sien. Ons het vir Meneer gesê die seun kan nie weggaan van sy pa nie. As hy weggaan, dan sal sy pa sterf. Maar Meneer het vir ons gesê as ons nie ons jongste broer saambring nie, dan mag ons nie weer vir Meneer sien nie. Ons het toe by ons pa gekom en ons het vir hom gesê wat Meneer gesê het. “Eendag het ons pa vir ons gesê ons moet weer gaan kos koop, en toe het ons gesê ons kan nie gaan as ons jongste broer nie saam met ons gaan nie. As ons gaan en ons jongste broer is nie by ons nie, dan mag ons jou nie sien nie. Ons pa het vir ons gesê: ‘Julle weet dat ek net twee kinders by hierdie vrou gehad het. Die een kind het weggegaan van my, en ek dink 'n wilde dier het hom opgevreet. Ek het hom nog nie weer gesien nie, tot vandag toe nie. Ek is 'n ou man. As julle ook hierdie seun wegvat van my, en daar gebeur iets met hom, dan sal ek, 'n ou man, sterf van hartseer.’ As ek nou by my pa kom en die seun vir wie hy so lief is, is nie by ons nie, wat sal gebeur? My pa sal sterf as hy sien die seun is nie daar nie. Dan sal dit ons skuld wees as ons pa wat al 'n ou man is, sterf van hartseer. Ek het vir my pa belowe dat ek die seun goed sal oppas. Ek het gesê as hy nie terugkom na my pa toe nie, dan sal dit vir altyd my skuld wees. Meneer moet my asseblief hier in die seun se plek laat bly. Ek sal Meneer se slaaf wees, maar Meneer moet die seun saam met sy ander broers laat teruggaan. Ek kan nie na my pa toe gaan as die seun nie by my is nie. Ek wil nie sien hoe ongelukkig my pa dan sal wees nie.”

GENESIS 44:16-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is. Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader. Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog 'n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle 'n vader of broer? En ons het my heer geantwoord: Ons het 'n ou vader; en daar is 'n jong seun, 'n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief. Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig. En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat. Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie. En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het, het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons 'n bietjie voedsel. Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het — die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie. As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom 'n ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal. As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie — terwyl sy siel innig aan hom verkleef is — sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!

GENESIS 44:16-34 Die Boodskap (DB)

Juda het geantwoord: “Wat kan ons tog sê, Meneer? Ons is sprakeloos. Hoe kan ons ons onskuld bewys? God straf ons nou vir ’n misdaad van lank gelede. Hier is ons dan, Meneer. Ons sal almal hier bly en vir u werk, en nie net die een in wie se sak die beker gekry is nie.” “Glad en geheel nie,” het Josef gesê. “Slegs die een wat die beker gesteel het, moet my slaaf word. Die res van julle kan maar na julle pa toe teruggaan. Niemand sal julle ook meer op die pad hinder nie.” Toe het Juda opgestaan en gepraat: “Ek smeek u, Meneer, luister na my. Ek wil u graag iets vertel. U is net soos die farao en ’n baie belangrike man, maar u moet tog nie nou kwaad of ongeduldig word nie. Toe ons die eerste keer hier was, het u ons gevra of ons ’n pa het of nog ’n ander broer. Ons het gesê dat ons wel ’n pa het en dat hy al oud is. Ons het u ook van ’n jonger broertjie vertel wat ons pa op sy oudag gekry het. En toe het ons ook gesê die jongste se enigste broer is ’n lang ruk al dood. Hulle twee was die enigste kinders van hulle ma en ons pa was baie lief vir die jongste. U het toe vir ons gesê: ‘Gaan haal die jongste dat ek kan sien hoe hy lyk.’ Ons het vir u gesê dit is onmoontlik; die seun kan nie van sy pa af weggaan nie, het ons gesê, sy pa sal doodgaan as daar iets met hom moet gebeur. U het egter aangehou en gesê: ‘As julle nie julle jongste broer saambring nie, wil ek julle nie weer sien nie.’ Daarna is ons huis toe en ons het ons pa van alles vertel. Presies soos u gesê het. Na ’n ruk het ons pa gesê ons moet teruggaan om kos te koop. Ons het oor en oor vir hom gesê: ‘Pa weet mos ons kan nie teruggaan nie. Ons kan net gaan as ons jongste broer saamgaan. Sonder hom wil die man ons nooit weer sien nie.’ Ons pa het egter volgehou: ‘Julle weet tog Ragel het my net twee seuns gegee. Een seun het net verdwyn. Tot vandag toe het ek hom nooit weer gesien nie en moet ek maar die storie glo dat wilde diere hom verskeur het. As julle die ander seun ook nou van my gaan wegneem en iets gebeur met hom, sal ek van hartseer sterf.’ So, Meneer, as ek nou moet teruggaan na my pa toe en hierdie seun vir wie hy tog so lief is, is nie by nie, sal dit sy einde beteken. As ek sonder die jongste moet terugkeer, sal ons ons gryse pa van verdriet moet begrawe. “En, Meneer, ek het verantwoordelikheid vir hierdie seun geneem. Ek het vir my pa gesê: ‘As ek nie hierdie kind vir Pa terugbring nie, staan ek lewenslank skuldig voor Pa.’ Laat ek daarom eerder in die plek van die seun agterbly en ek sal lewenslank vir u werk. Laat die kind tog net saam met sy broers huis toe gaan. Hoe kan ek sonder die seun na my pa toe teruggaan? Ek wil tog nie sien hoe hy dag vir dag wegkwyn van verdriet nie.”

GENESIS 44:16-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.” “Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.” Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao. “Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het. Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’ Toe sê u: ‘Bring hom hierheen sodat ek hom kan sien.’ Maar ons het vir u gesê: ‘Meneer, die seun kan nie weggaan van sy pa nie, want dan sal sy pa sterf.’ Maar u het gesê: ‘As julle jongste broer nie saamkom nie, mag julle my nie weer sien nie.’ Ons het toe na ons pa teruggegaan en hom vertel wat u gesê het. Toe hy later vir ons sê: ‘Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos,’ het ons geantwoord: ‘Ons kan nie gaan nie tensy Pa toelaat dat ons jongste broer ook saamgaan. Ons sal nie toegelaat word om die man weer te sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’ Toe sê ons pa vir ons: ‘Julle weet dat my vrou twee seuns gehad het en dat een van hulle weggegaan het en nie weer teruggekom het nie. Ek dink roofdiere het hom verskeur, want ek het hom nog nie weer gesien nie. As julle nou sy broer ook van my wegneem en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom met smart graf toe laat gaan.’ “Nou, Meneer, ek durf nie sonder die seun na my pa toe teruggaan nie. Ons pa is baie lief vir die seun. As hy sien dat die seun nie by ons is nie, sal ons pa sterf. Ons sal veroorsaak dat hy in sy ouderdom met smart in die graf gaan. Meneer, ek het my pa gewaarborg dat ek na die seun sal kyk. Ek het vir hom gesê: ‘As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa.’ Asseblief, Meneer, laat my hier agterbly as u slaaf in die plek van die seun en laat hy saam met sy broers teruggaan. Hoe sou ek sonder die seun na my pa toe kon teruggaan? Ek kan dit nie verduur om daaraan te dink dat ek hom soveel smart sal aandoen nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid