Genesis 37:12-36

Genesis 37:12-36 AFR20

Sy broers het gegaan om hulle vader se kleinvee by Sigem te laat wei. Toe sê Israel vir Josef: “Laat jou broers nie die vee by Sigem wei nie? Kom, dan stuur ek jou na hulle toe.” Josef het hom geantwoord: “Dit is goed so.” Hy sê toe vir hom: “Gaan kyk asseblief of dit goed gaan met jou broers en met die kleinvee, en bring dan vir my nuus.” So het hy hom uit die vallei by Hebron gestuur, en hy het by Sigem aangekom. 'n Man het hom daar gekry; kyk, hy was aan die ronddwaal in die veld. Die man vra hom toe: “Wat soek jy?” Hy het geantwoord: “Ek is op soek na my broers. Sê my asseblief waar hulle die vee laat wei.” Die man sê toe: “Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het gehoor hulle sê, ‘Kom ons gaan na Dotan.’ ” Josef is toe agter sy broers aan, en hy het hulle by Dotan gekry. Hulle het hom van ver af gesien. Voordat hy naby hulle was, het hulle arglistig teen hom saamgespan om hom dood te maak. Hulle het vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom daardie bobaasdromer aan! Kom dan nou, laat ons hom vermoor en in een van die opgaarputte gooi. Ons sê dan 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome!” Ruben het dit egter gehoor en hy het hom uit hulle hand gered. Hy het gesê: “Ons mag nie 'n mens doodslaan nie.” Ruben het daarby vir hulle gesê: “Moenie bloed vergiet nie. Gooi hom in hierdie opgaarput in die woestyn; maar moenie 'n hand aan hom slaan nie.” Dit was sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te neem. Toe Josef by sy broers aankom, het hulle Josef se rok uitgetrek, die lang rok met moue wat hy aangehad het. Hulle het hom gevat en hom in die opgaarput gegooi. Die put was leeg – daar was nie water in nie. Hulle het gaan sit om brood te eet, en toe hulle opkyk, sien hulle daar kom 'n karavaan van Ismaeliete uit Gilead aan. Hulle kamele was gelaai met gom, balsem en hars. Hulle was op pad om dit na Egipte af te neem. Juda sê toe vir sy broers: “Wat wen ons as ons ons broer vermoor en dan nog sy bloed moet bedek? Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie ons hand aan hom slaan nie; hy is immers ons broer, ons eie vlees.” Sy broers het na hom geluister. Toe die Midianitiese manne, die handelaars, daar verbykom, het hulle Josef opgetrek, hom uit die opgaarput gehaal en hom vir twintig silwerstukke aan die Ismaeliete verkoop, en dié het Josef na Egipte geneem. Toe Ruben terugkeer na die opgaarput, kyk, toe is Josef nie meer in die opgaarput nie. Hy het sy klere geskeur en na sy broers teruggegaan. Hy sê toe: “Die seun is nie daar nie! En ek, wat gaan ek nou doen? ” Hulle het Josef se rok geneem, 'n bokram geslag en die rok in die bloed gedoop. Toe stuur hulle die lang rok met moue vooruit en laat dit na hulle vader neem. Hulle het gesê: “Dit is wat ons gevind het. Stel tog vas: Is dit u seun se rok of nie?” Hy het dit herken en gesê: “Dit is my seun se rok! 'n Roofdier het hom opgevreet! Josef is sonder twyfel verskeur!” Jakob het sy klere geskeur en 'n roukleed om sy heupe gebind. Hy het baie lank oor sy seun gerou. Al sy seuns en dogters het opgestaan om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: “Nee, al treurend sal ek na my seun in die •doderyk afgaan.” So het sy vader oor hom gehuil. Die Midianiete het hom in Egipte verkoop aan Potifar, 'n paleisamptenaar van die farao, en hoof van die lyfwag.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid